Na aanleiding van Psalm 119:129-136 (lees 2020-vertaling)
Here, dankie vir dié omvattende psalm wat ons opnuut herinner aan die fontein waaruit ware lewe borrel. Die agt verse wat ons oordink, herinner oorvloedig aan die saad waaruit die gelukkige lewe ontkiem en floreer.
Ek dank U vir die skoonheid van dié geloofsles. Here, die kunstige opbou daarvan en die diversiteit van begrippe wat u Torah as beginsel vir ’n Godsalige lewe beskryf, bevestig ons geloof dat U alleen God is.
Here, ek wil by herhaling in u teenwoordigheid die talle begrippe weer in my hart en gedagtes omrol, om die nuanses van u lewegewende strategie te herkou en my daartoe verbind om U geloofsgetrou en gelukkig te dien.
Here, die Psalmnis praat van bepalings waaruit u Torah bestaan. Kleiner voorskrifte en opdragte wat betekenis aan ons lewe gee en ons verhouding met U kalibreer. Ja, ek wil by u bepalings hou vir ’n lewe voor u aangesig.
Daar is ook verwysings na u woord, Here. U praat met ons en stel Uself in ons midde, is teenwoordig by ons doen en late. Wanneer ek u woord opreg ontvang, wyk die donker, om my lewenspad te verlig en kom daar insig in u wil vir ons lewe.
Here, die Psalmis praat ook nog van u gebooie. Hoe verskil dit van u bepalings? Dalk wil dit meer klem lê op die erns waarmee U ons lewens wil rig, beskerm en betekenisvol maak. Ek hunker na u lewensbeginsels,
wat onwankelbaar vas staan.
Die Psalmis maak ook sy droefheid bekend oor mense. Here, hy huil oor hulle wat nie u wil (Torah) ken nie en daarom die wonder van ’n Godsalige lewe mis. Wek in my u deernis om my oor ander te ontferm, sodat hulle ook u Torah leer ken.
Here, laat die lig van u aangesig oor my, skyn. Leer my u voorskrifte. Maak my tree ferm met u woord.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – NEGENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD