‘Iemand wat lui is in sy werk, is die tweelingbroer van die verwoester.’ Spreuke 18:9 NLV

Daar is ’n bekende aanhaling deur die outeur, Suzy Kassem, wat lui: “Doubt kills more dreams than failure ever will”

Dit is ’n gedagte waarmee die meeste mense kan identifiseer. Ons almal twyfel die een of ander stadium aan ons eie vermoëns. Is ek slim genoeg om my doktorsgraad te kry? Skryf ek goed genoeg om ’n manuskrip voor te lê? Sal ek ’n goeie ouer wees? Kan ek ooit regtig sing? Is ek goed genoeg vir die span? Hierdie twyfel is by sommige mense so groot dat dit hulle drome in die kiem smoor nog voordat dit behoorlik van die grond af kon kom.

Volgens die skrywer van Spreuke 18:9, is daar nog iets wat drome kan vernietig, en dit is luiheid. In die New Living Translation word hierdie skrifgedeelte soos volg weergegee:

‘A lazy person is as bad as someone who destroys things.’ Proverbs 18:9 NLT

Lui mense wil nie moeite doen nie. Hulle wil nie die ekstra myl stap nie, en weier om hulle eie gemak prys te gee. Die wilskrag om tot aksie oor te gaan ontbreek. Die gevolg is dat hulle drome nooit realiseer nie. Deur lui te wees, mis hulle geleenthede om uit te styg, en dalk selfs die kans om ’n verskil in die wêreld te kan maak. Luiheid vernietig drome.

Die teengif vir luiheid is selfdissipline. Dit vereis dat ’n mens soms jou eie gemak opsy moet skuif om deur te druk sodat jou drome kan waar word. Dit maak nie saak hoe kreatief of fantasties jou droom is nie. Sonder selfdissipline gaan dit net ’n droom bly. Niks wat die moeite werd is, kom maklik nie.

‘Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek.’ Spreuke 14:23

God het aan jou spesiale gawes en talente gegee om die goeie dade te kan doen wat hy vir jou beplan het (Ef. 2:10). Jou verantwoordelikheid is om die geleenthede wat oor jou pad kom met beide hande aan te gryp, en jou gawes en talente ten volle te gebruik. Hy droom saam met jou.

Moenie langer toelaat dat luiheid jou drome vernietig nie. Onthou, hoe meer jy insit, hoe meer sal jy uitkry. `

‘Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek’ Prediker 10:18

 

Geskryf deur Madeleine Venter