‘Nadat hulle aan Jesus alles gedoen het wat van Hom in die Skrif geskrywe staan, is Hy van die kruis afgehaal en begrawe. Maar God het Hom uit die dood opgewek. Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk.’ Handelinge 13:29-31
Daar word vertel dat Mozart se pa, Leopold, ’n baie unieke manier gehad het om sy seun in die oggende uit die bed uit te kry. Hy sou ’n toonleer op die klavier begin speel en dan net voor die laaste noot stop. Dan sou hy dit herhaal totdat die gefrustreerde Mozart uit die bed uit spring om die laaste noot te kom druk.
Net so frustrerend soos wat dit is om ’n toonleer te hoor waarvan die laaste noot nie gespeel word nie, is dit om ’n Evangelie te hoor wat nie klem op Jesus se opstanding plaas nie.
Jesus Christus wat aan die kruis vir ons sondes betaal het, is nie die volledige evangelie nie. Daar was ’n opstanding ook gewees.
C.S. Lewis het die volgende opmerking gemaak:
‘To preach Christianity meant (to the Apostles) primarily to preach the Resurrection. … The Resurrection is the central theme in every Christian sermon reported in the Acts. The Resurrection, and its consequences, were the ‘gospel’ or good news which the Christians brought.’ (C.S. Lewis; Miracles, ch. 16; eie klem)
As dit nie vir die feit was dat Jesus uit die dood uit opgestaan en aan baie mense verskyn het nie, sou hulle niks gehad het om te verkondig nie. Dan sou hulle deur wrede vervolging stilgemaak kon word.
Niks en niemand kon hulle egter keer om die Evangelie te verkondig nie, want hulle het die opgestane Jesus gesien. En dít was hulle boodskap gewees.
Dit is waarom Paulus die geloof in Jesus se opstanding as ’n vereiste van redding noem:
‘As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.’ Romeine 10:9
Laat ons nooit vergeet om Jesus se opstanding net so passievol as sy kruisdood te verkondig nie.
Geskryf deur Madeleine Venter