Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Daar word gesê dat iemand met mooi herinneringe eintlik twee keer lewe. Die eerste keer is wanneer jy dié mooi herinneringe maak (soms sonder om regtig daaroor te dink), en die tweede, wanneer jy dit – met ´n glimlag – herroep en onthou, daaroor gesels en saam deur albums blaai.

Opvoedkundiges lê dus baie klem op die waarde van mooi herinneringe vir kinders, families en vriende. Gelukkige kinderjare is sinoniem met opbouende rituele, saam doen dinge en ´n skatkis vol herinneringe. Dit bind ons saam wanneer ons saam kan doen en saam kan onthou. Hierdie herinneringe maak kinders weerbaar en skep ´n veilige omgewing vir grootword.

Natuurlik is dié herinneringe nog meer betekenisvol wanneer dit tasbaar gevier en later op dié manier onthou kan word. Daarom bak ons verjaarsdagkoeke, blaas kersies dood, blaas ballonne op en drink saam ´n glasie vonkelwyn. Die  smaak van ouma se sjokoladekoek, die geur van verjaarsdagkersies en die geluid van ´n bottelprop is soms genoeg om ´n paar uur se mooi herinneringe op te roep. Musiek, sekere kos, die reuk van tee of die besoek aan ´n gunsteling plek bring ons op ´n manier in kontak met geliefdes, selfs wanneer hulle nie by ons is nie of reeds oorlede is. Die waarde van die ervaring lê veel dieper as ´n enkele dag, ete of vakansie.

Rituele raak ook ons geloofsharte. Christene wat die voorreg en geleentheid het om na Israel en ander Bybellande te reis, word diep geraak wanneer hulle plekke soos Betlehem, die see van Galilea of Golgota besoek. Dit maak die Bybel lewendig en verander hulle perspektief op bekende Bybelgedeeltes. Die verhale word eg, en baie menslik. Selfs die reuk van ´n kerkgebou, of die gevoel van kerkbanke, kan ons op ´n manier aan ons geloofsgemeenskap herinner.

Jesus het ons behoefte aan mooi herinneringe en tasbare rituele verstaan. Hy wou graag vir sy dissipels, en vir sy volgelinge deur die eeue, iets gee waaraan hulle Hom en hulle saamwees kan onthou. Die sakramente van die doop en die nagmaal, kerkmusiek en die bekende woorde van die geloofsbelydenis help ons sintuie om op God en sy liefde vir die mensdom te fokus. Ons kan dit op ´n tasbare manier onthou, dit hardop sê en God se genade aan ons lywe voel.

In die aanloop tot Paasfees wil God hê dat hierdie seisoen meer as blote kopkennis en woorde sal wees: ons moet dit ervaar, dit deel van ons lewens maak. Ons het die geleentheid om ons harte hiervoor te berei. Die rituele van vas en oordenking, Paasmusiek, die kruise in ons huise of die kos wat ons graag tydens Paasfees voorberei en eet, fokus ons harte opnuut hierop. Ons het die wonderlike geleentheid om, net soos Jesus en sy dissipels en gelowiges deur die eeue, brood met ons vingers te breek en die tekstuur daarvan in ons monde te proe. Ons kan die wyn sien, ruik en proe. Ons kan hande vat en die Here dank vir die gawe van die kos, vir sy verlossing en vir ons redding. Dit bind ons saam, maak ons weerbaar vir uitdagings en skep ´n veilige hawe en gemeenskap.

En daarmee saam kan ons onthou dat diegene met mooi herinneringe nie net twee keer lewe nie, maar dat ons, deur God se genade en Jesus se kruisdood, inderdaad kan uitsien na ´n tweede, ewige lewe in ons hemelse tuiste. Hierdie gedagte, dié ervaring, het ewigheidswaarde.

Deur Susan Goosen