In die Middeleeue, voor die tyd van gedrukte woord, het geskrewe woorde in runes (die Ou Germaanse skryftekens), dikwels ´n magiese en amper bonatuurlike betowering gehad. Die gedagte dat jy jou woorde, jou gedagtes, kon agterlaat sodat mense dit kon sien – selfs wanneer jy nie naby was nie, het baie mense met agterdog vervul. Met geskrewe woord kon jy ´n seën, of ´n vloek, op ´n plek agterlaat. Jou woorde kon bly voortbestaan. Jy kon mense se lewens met jou woorde verander. Geen wonder dat mense dikwels baie bygelowig hieroor was nie.
Vandag is geskrewe en gedrukte woorde algemeen, en tog het dit steeds ´n unieke bekoring – ´n eiesoortige betowering. Goeie boeke kan ons meevoer na onbekende en wonderlike wêrelde en ons gedagtewêreld verbreed. ´n Geskrewe brief, e-pos of teksboodskap, kan ons binne sekondes in kontak bring met geliefdes wat nie naby is nie. En ons geskrewe woorde kan steeds ons hartsmense seën en vertroosting bring wanneer ons nie naby is nie. Woorde verander steeds lewens.
Woorde is ook kragtig. Dit kan maak of breek, heel of vernietig. Jakobus beklemtoon dit wanneer hy waarsku teen die krag van die tong. Die tong is klein, maar tog kry dit groot dinge reg. Die skrywer van Spreuke benadruk ook die waarde van ons woorde. “Hy wat sy woorde tel is verstandig. Die regverdiges bring lewe met hulle woorde.”
In die tyd van Kersfees kom ons voor die grootste wonder van woorde, die wonder van die Woord te staan. God se woorde gee lewe. Dit het krag. Deur net te praat, het God die aarde met alles daarop, die heelal, geskape. Maar meer nog, God se Woord het Mens geword. Dit het gestalte gekry. Dít wat God belowe het, dít wat Hy vir sy volk, sy kinders, wou gee, het waar geword toe Hy vir Jesus na die aarde gestuur het. Jesus is die verpersoonliking van God se beloftes, sy woorde. Jesus is God se woorde in aksie. Die Israeliete kon God se woorde lees en verstaan deur na Jesus te kyk. Hulle kon dit hoor, sien, voel, ruik, proe. Jesus is die lig vir die wêreld. In hulle tyd van politieke onderdrukking en onsekerheid, het God sy volk aan sy liefde, sy mag en sy ewigheid kom herinner.
Ons het hierdie maand die geleentheid om hierdie wonder van die Woord te vier wanneer ons saam met ons geliefdes Kersfees vier. Hierdie Woord gee steeds lewe. Dit bly voortbestaan. Dit bly van krag. In ´n tyd wat ons ontstellende en hartverskeurende verhale van wanhoop, seerkry, oordeel en haat hoor, kan ons vashou aan die beloftes en krag van God se Woord. Sy woord keer nooit leeg terug nie. In die tyd wat so baie onderdrukking en onsekerheid ervaar, wil God ons weer aan sy liefde, mag en ewigheid kom herinner. Hierdie Woord, hierdie beloftes, is ook vir ´n tyd soos hierdie. Dit is veral vir ´n tyd soos hierdie. En dit het juis nou die krag om lewens te verander. Dit bring lig. Hoop. In tye van donker en swaarkry, kan God se woorde ook deur óns woorde en dade gestalte kry.
Geskryf deur Susan Goossen