‘Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.’ Markus 10:45
In Johannes 13 lees ons die verhaal waarin Jesus sy dissipels se voete was. Alhoewel die meeste van ons die storie goed ken, is daar steeds ’n paar belangrike lesse uit hierdie toneel wat ons nie moet miskyk nie.
Eerstens, Johannes 13:1 sê vir ons dat Hy sy mense tot die uiterste toe liefgehad het. Deur hulle voete te was, wou hy ons leer dat liefde en diensbaarheid hand aan hand gaan. Dit soek nie sy eie belang nie. (1 Kor. 13:5)
Tweedens, het Judas reeds planne begin maak om Jesus te verraai. Ons lees egter nêrens dat Jesus Judas se voete oorgeslaan het nie. Sy voete is met net soveel deernis en liefde as die getroue dissipels s’n gewas.
Derdens, lees ons dat die Vader alles in Jesus se hande gegee het. Hy is die Woord wat mens geword het. Die Een deur wie alles tot stand gekom het. Ja, álles. Tog kniel Hy, die Skepper, om die voete van sy skepsels te was. (Joh. 1:1-3)
Is daar iemand vir wie jy lief is? Bewys jou liefde deur diensbaar te wees.
Is daar iemand wat jou in die rug gesteek het? Wees die minste en dien steeds.
Is jy in ’n magsposisie? As die Koning van alle Konings vuil voete gewas het, behoort jy selfs nog meer as dit te doen.
‘As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.’ Johannes 13:14-15
Jesus was nie te haastig om geduldig na die vrou met bloedvloeing se storie te luister nie. Hy was nie te heilig om by Saggeus te gaan kuier nie. Hy was nie te belangrik om tyd saam met kinders te spandeer nie. (Mark. 5:33; Luk. 19:5; Luk. 18:16)
Luister wat het Hy nog gesê:
‘Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.’ Matteus 23:11-12
Mag ons in hierdie Lydenstyd onthou dat ons geroep word om dienaars te wees. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel, laat ons Hom daarin navolg.
Geskryf deur Madeleine Venter