Kort nadat ons op ´n vorige reservaat ingetrek het, besluit ons een middag om die naaste dorp (sowat 40 km ver) te gaan verken. Ons het die dorpie seker op ´n slegte dag gevang, want ons eerste indrukke was die vuil strate wat met rommel bestrooi was. My oudste, toe nog ´n kleuter, het die spul vanuit die veilige hoogte van haar karstoeltjie aanskou. “Dis ´n gemors,” was haar eerlike opinie. En, om die volgende draai weer: “Dis ´n groot gemors!”
Ons het baie lief geword vir daardie omgewing, hegte bande gesmee en later geleer om verby die vuil sypaadjies te kyk en die mense en die berge raak te sien. Maar ek sal altyd ons eerste kennismaking, en daardie dag se bleek prentjie, onthou.
Ons naaste dorp op hierdie stadium lyk elke Vrydagmiddag maar steeds effe beroerd. En dis ook nie net vuil sypaadjies wat ons ons koppe in ongeloof en afkeer laat skud nie. Daar is baie kere wat ek maar net kan sug: “Dis ´n gemors.” Kinderkamers, kombuise, wasgoed, finansies en selfs verhoudings kan soms morsig wees. Ons het nie altyd raad of uitkoms nie.
Dis ´n eeue-oue probleem.
“Dis ´n gemors,” het Josef sekerlik gedink toe hy onder in die put en later in die tronk was. “Wat ´n gemors,” het Elia onder sy besembos, Jona in die vis, en Jeremia in die modderput gesug. En Adam en Eva, toe hulle hulself buite die Tuin van Eden bevind. Moses, toe die Israeliete net nie wou ophou kla nie. Koning Dawid, wat vir die soveelste keer vir Saul moes vlug. Koningin Ester, toe sy uitvind dat iemand haar volk wil vermoor. Die dissipels en volgelinge van Jesus wat op ´n afstand die gebeure op Golgota dopgehou het.
Dis ´n groot gemors. Wat nou? Hoe gemaak as jy net nie verby jou huidige situasie kan kyk nie? As alles net hopeloos lyk? Wat maak jy met die gemors van verbrokkelde verhoudings, siekte, mislukkings en teleurstellings? Dalk dryf die komende verkiesing, jou plaaslike munisipaliteit se dienslewering of die hoë misdaadsyfers jou teen die mure uit. Miskien wroeg jy oor jou kinders se toekoms of jou gesin se veiligheid.
Ons kan so baie uit hierdie Bybelse verhale van wanhoop leer. Die gemors was toe nie die einde van die verhaal nie. God was nog nie klaar met Josef, Elia, Jeremia, Moses en Ester nie. Hy was nog nie klaar met Adam en Eva, die Jode en die mensdom nie. Hy is steeds nie klaar nie. Meer nog, God kan op wonderbaarlike wyse die sleg in ´n verhaal in iets goeds verander. Hy kan dit mooier, beter, sterker maak. Ons kan dit ook in ons eie lewens erken. Ons kan terugdink aan al die kere wat God ons op moedverloor se vlakte kom haal het, ons op die regte pad na waters van rus gelei het en ons weer nuwe moed gegee het.
“Vir God se kinders, sal dit ten goede meewerk,” bevestig Paulus. En midde in die storm, wanneer dit voel asof alles te veel is, ook daar kan niks ons van die liefde van God skei nie. In die maand van politieke woelinge en wêreldwye onrus, kan ons weet dat dit vir God se kinders nie sleg sal eindig nie. God kan dinge in ons, en deur ons, nuut en beter maak.
Hou moed. Dit lyk dalk nou soos ´n gemors, maar eintlik is dit nog net nie klaar nie.
Deur Susan Goosen