Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

In Matteus 5:16 staan daar: ‘Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.’ (eie klem)

Dis nie altyd maklik om terug te staan sodat die kollig eerder op God as op jou val nie. Dit is in ons aard om lof te verwag vir dit wat ons goed doen.

Die probleem is egter, dat jy ’n onbegonne taak aanpak wanneer dit daarby kom om mense te beïndruk. Hoe hard jy ook al probeer, daar sal altyd iemand wees wat iets meer indrukwekkend as jy kan doen. Iemand wat meer talent het, beter gekwalifiseerd is, sterker, of mooier, of slimmer is. Iemand wat ’n groter applous as jy gaan kry.

Wanneer jy egter terugstaan en die fokus na God verskuif, is dit soos ’n klip wat van jou skouers afrol. God is nie in kompetisie met enige iemand nie, en Hy hoef niemand te probeer beïndruk nie.  Hy is wat Hy is. Wanneer die Heilige Gees aan die werk is, kan niks en niemand teen Hom kers vashou nie.

Tog smag ons steeds na erkenning. Paulus waarsku egter in Galasiërs 1:10 dat, indien hy die guns van mense soek, hy geen dienaar van Christus sou wees nie.

Beteken dit dan nou dat jy jou verniet afsloof? Beslis nie. Hy noem ook in 1 Korintiërs 4:5 dat God die Een is wat aan jou die erkenning sal gee wat jou toekom. Hy is eintlik die enigste een wat die reg het om dit te doen, want Hy ken die intensies van jou hart.

Jesus het ook gewaarsku dat ons nie ’n groot vertoon van goeie werke moet maak nie. ‘Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.’ Matteus 6:3-4 (eie klem)

Wanneer die guns van mense vir jou te belangrik word, staan jy die gevaar om geestelik hoogmoedig te word. Jy meet dan jou waarde aan die hoeveelheid lof wat jy ontvang, en jy vergeet wat Jesus in Lukas 13:30 gesê het: ‘Onthou net: Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.’

Die beste manier om die Vader te verheerlik, is deur mense bewus te maak van God se liefde en barmhartigheid. Wanneer jy die Heilige Gees vra om jou te lei, sal Hy jou help om mense se harte aan te raak volgens elkeen se unieke behoeftes. So hulle dan aan God die eer gee.

Maak dit van nou af jou missie om die fokus weg van jouself te verskuif, en laat die Heilige Gees se stem, in alles wat jy sê en doen, die hardste praat.

‘Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,’ Kolossense 3:23

 

Geskryf deur Madeleine Venter