Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

‘Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: ‘Wat doen U?’ nie.’ Daniël 4:35

Hierdie is in baie opsigte ’n moeilike Skrifgedeelte om te verwerk.

Ek dink die grootste rede waarom ons sukkel om God se absolute wil te aanvaar, is omdat ons nie regtig besef hoe groot en almagtig Hy is nie.

Jesaja 45:11-12 spreek dit direk aan: ‘So sê die Here, die Heilige van Israel, die Skepper van Israel: Durf julle van My rekenskap vra oor wat gaan gebeur? Durf julle aan My voorskryf oor my kinders en oor die werk van my hande? Ek het die aarde gemaak; die mensdom wat daarop is, het Ek geskep. Ek het met my hande die hemel oopgespan en Ek het aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee.’

Wetenskaplikes reken dat daar van die begin van die aarde se bestaan af, al meer as 117 biljoen mense moes geleef het.[i] Dink ’n bietjie hieroor – meer as 117 biljoen unieke mense wat deur God geskape is.

Die sigbare heelal is min of meer 94 biljoen ligjare in deursnee.[ii] Om jou ’n idee te gee van hoe groot dit is: een ligjaar is rofweg gelyk aan 10 triljoen kilometer.[iii] Dít is hoe groot hierdie hemel is wat Hy met sy hande oopgespan het.

Aan hoeveel hemelliggame het Hy hulle opdragte gegee? Wel, in ons sterrestelsel alleen is daar 3916 sonnestelsels.[iv] En daar is onlangs bevind dat die werklike getal sterrestelsels in die heelal omtrent 2 triljoen is![v]

Dit is alles ook maar net skattings, en hierdie syfers verander so vinnig as wat die tegnologie waarmee dit vasgestel word verbeter.

Ons menslike verstand kan eintlik nie ten volle begryp hoe groot en almagtig God is nie, en daarom kan ons nie altyd verstaan waarom Hy sekere dinge laat gebeur nie. Die Prediker sê: ‘Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van ‘n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles.’ Prediker 11:5.

Ons lees ook in Jesaja 55:8-9: ‘My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.’

In tye wanneer dit vir ons moeilik is om God se wil te aanvaar, moet ons net onsself herinner aan die kere waar dinge tog beter uitgedraai het as wat ons gedink het dit sou.

Vertrou net op God se goedheid en wysheid, en weet dat Hy alles in liefde doen. Dan kan jy saam met Dawid sê: ‘… Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.’ Psalms 131:1-2

 

Geskryf deur Madeleine Venter

[i] https://www.prb.org/articles/how-many-people-have-ever-lived-on-earth/

[ii] https://imagine.gsfc.nasa.gov/educators/programs/cosmictimes/educators/guide/age_size.html

[iii] https://www.scientificamerican.com/article/how-big-is-space/

[iv] https://www.greenmatters.com/news/how-many-solar-systems-are-there

[v] https://www.sciencefocus.com/space/how-many-galaxies-are-in-the-universe