Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Christene is nie veronderstel om rustig eenkant te sit en wag vir die wederkoms nie.

2 Korintiërs 5:18 sê dat God die evangelie aan ons toevertrou het. Dit beteken dat ons daarvoor verantwoordelik is om Jesus se opdrag uit te voer:

‘Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.’ Matteus 8:19-20

Hierdie opdrag geld vir elke liewe volgeling van Jesus – ten spyte van jou ouderdom, geleerdheid, gesondheid, persoonlikheid, nasionaliteit, status, inkomste, of watter ander rede ook al. Niemand het ’n verskoning nie. Die Heilige Gees rus elke gelowige toe met ’n unieke vermoë om daardie opdrag te kan uitvoer. (1 Kor. 12; Fil. 2:13)

Jy kan, net daar waar jy is, dit wat God aan jou gegee het gebruik om sy koninkryk mee uit te brei. Soos in die gelykenis van die muntstukke – waarin ’n man goue muntstukke aan drie van sy slawe toevertrou het volgens hulle bekwaamheid – het God ook aan jou geskenke gegee waarmee Hy wil hê jy moet woeker.

Ons ken die storie. Die twee slawe wat afsonderlik vyf en twee goue muntstukke ontvang het, het onmiddellik aan die werk gespring om dit te verdubbel, terwyl die slaaf wat net een goue muntstuk gekry het syne begrawe het. Ons weet dat die eienaar met sy tuiskoms nie baie ingenome met laasgenoemde was nie.

Die les in hierdie gelykenis word vir my baie mooi verwoord uit Die Boodskap:

‘Hy wat bereid is om te werk met wat hy het, sal nog meer kry. Wie egter agter allerhande verskonings wegkruip en nie skouer aan die wiel wil sit met wat hulle het nie, sal uiteindelik ook die bietjie verloor wat hulle het.’ Matteus 25:29 DB

Ek dink hierdie is woorde wat ons hopeloos te lig opneem.

Jesus het sy lewe gegee sodat die mensdom gered kan word. Dit is ’n geskenk wat lê en wag om oopgemaak te word. Deur dit vir jouself te hou, verbreek jy Jesus se nuwe gebod in Johannes 13:34, naamlik dat ons mekaar moet liefhê soos wat Hy ons liefhet.

Maak ’n punt daarvan om hierdie week, op jou unieke manier en met dit wat jy het, na ten minste een persoon uit te reik. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker gaan dit word. Jy hoef nie ’n sendeling of ’n pastoor te wees nie. Jy hoef nie Bybelverse uit jou kop uit te ken nie. Deel net jou storie van redding.

‘Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ‘n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig.’ 2 Timoteus 2:15

 

Geskryf deur Madeleine Venter