Die begin van enige jaar noop mens nogal om dié jaar in sy geheel te bekyk en bietjie beplanning te doen. Dit is immers ´n begin. En dit is seker nie moontlik om die datum met sy nuwe jaartal neer te skryf sonder om effe, of selfs baie, benoud te voel nie. Want uitdagings gaan daar beslis wees. En partykeer, wanneer mens dit logies beskou, kan dit voel asof mens glad nie opgewasse vir dié taak is nie. Dit kan wees dat jou begroting en jou planne glad nie ooreenstem nie, of dat jy gewoon net nie weet hoe jy alles wat moet gebeur, gaan kan bestuur nie. Hoe op aarde beplan mens immers vir alles wat hierdie jaar moontlik kan skeefloop?
Ons lees in die Bybel van ´n paar mense wat ook ´n onseker tyd tegemoet moes gaan. Dalk was dit in die begin van die jaar, maar soms was dit die eerder die begin van ´n nuwe, onbekende era, of selfs net ´n uitsiglose bestaan met geen hoop op verandering nie.
Dink maar aan die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, die blinde of verlamde man of die tien mans wat melaats was. Of die Samaritaanse vrou, Jairus en sy vrou, of die hartseer weduwee by Nain. Hierdie individue het in verskillende plekke gewerk en gewoon, en soms uiteenlopende uitdagings gehad. Maar hulle was almal voor ´n berg wat net te hoog en net te moeilik was om te klim. Nie een van hulle het geweet wat om volgende te doen nie. Nie een kon in hulleself die krag vind om hulle omstandighede te verander nie.
Hulle het nog iets in gemeen. Iets wonderbaarliks. Almal van hulle het ´n ontmoeting met Jesus gehad. En almal van hulle het gevind dat hierdie ontmoeting hulle lewens totaal en al verander het. Een dag met Jesus was al wat nodig was. Een dag met Jesus was vir hulle genoeg. Een dag met Jesus is vandag steeds genoeg.
Menslik gesproke kan ons nie altyd lig sien nie. Ons planne raak op. Ons moed sak soms in ons skoene, ons sleep ons voete. Die uitdagings op ons pad lyk soms onoorkomelik, soos ´n baie steil bergpad waarvan jy die einde nie eers kan sien nie.
Maar Jesus kan binne ´n dag, binne ´n oomblik, alles verander. Dit wat vir ons onmoontlik lyk, is vir God moontlik. Maklik. God word nie deur ons grense gebind nie. Hy hou van groot uitdagings, want Hy het groot krag.
Miskien kan ons die jaar begin deur onsself en mekaar te herinner aan vorige ontmoetings met Jesus. Geleenthede waar alles binne ´n oogwink anders, beter was. Of selfs aan die kere wat jy na maande terugkyk en skielik besef, dit is beter. Verby.
Daar gaan uitdagings in die nuwe jaar wees. Ons gaan sekerlik by tye raadop en sonder hoop wees. Miskien is daar nou al tye, maande of geleenthede waarteen jy vreeslik opsien. Miskien is jou planne reeds op. Maar vir God se kinders gaan die verhaal nooit by hierdie probleme stop nie. Jesus se teenwoordigheid kan alles verander. Ons kan met hoopvolle harte bid en wag. Want is dag, ´n oomblik, met Jesus, kan steeds alles verander op maniere wat groter is as ons klein begrip en verstand. Skep daarom moed aan die begin – ons dien ´n groot God.
Deur Susan Goosen