LUKAS 17:11-19 (2020-vertaling)

Vandag se meditasie vra ons aandag vir nog ’n ontmoeting van Jesus met mense in nood, wat sy ontferming (vers 13) begeer. Lukas se vertelling van Jesus se ontmoeting met tien melaatse mans bevat elemente van vaagheid. Die frase “op ’n keer” (vers 11), suggereer dat dié insident dalk nie direk op die voorafgaande gebeure volg nie. Dit sou dan Jesus se reis tussen Samaria en Galilea verklaar. Volgens Lukas gebeur dié ontmoeting op Jesus se reis na Jerusalem (vers 11), wat by 9:51 begin. Hy noem ’n onbekende dorpie (vers 12) as Jesus se ontmoetingspunt met die tien melaatse mans. Die ruimte wat Lukas skets vir dié ontmoeting, is ’n grensgebied waar beide Jode en Samaritane was. Dit was aan die buitewyke van ’n naamlose dorpie, waar melaatses weg van ander mense moes leef. Juis dáár herken tien randfigure vir Jesus en roep Hom aan: “Jesus, Meester, ontferm U tog oor ons!”

Lukas vertel dié tien mans het op ’n afstand gebly. Die wet van Moses het dit so bepaal vir melaatse mense. Hulle het hard geroep om Jesus se aandag te trek, hulle nood aan te meld. Aangrypend skryf Lukas dat Jesus hulle gesien, van hul teenwoordigheid bewus geword en onmiddellik opgetree het. Lukas rapporteer geen vrae van Jesus se kant, of gesprek tussen Hom en die mans nie. Jesus se enigste woorde is dat hulle die rituele voorskrifte van die wet van Moses (Lev 14:2-32) moet nakom en hulleself vir die priesters moet gaan wys; hulle is van hul melaatsheid genees en kan weer deel word van die samelewing. Verrassend sê die tien mans ook nie iets na aanleiding van Jesus se opdrag nie. Hulle het onmiddellik Jesus se opdrag gehoorsaam en op pad na die priesters toe is hulle gereinig; hulle was meteens van melaatsheid genees én ritueel rein. Die reis-tema in Lukas se verhaal, kom weer in spel. Al gaande ontvang hulle genesing en rituele reiniging van Jesus op pad na Jerusalem.

In ’n volgende toneel vertel Lukas dat een van die tien mans op pad na die priesters toe sien hy het gesond geword. Soos Jesus die tien mans gesien het in hul nood, sien dié een man sy nood is inderdaad verlig (weggeneem). Hierdie één man besef onmiddellik wie verantwoordelik is vir sy genesing en herstelde menswaardigheid. Hy het na Jesus toe omgedraai en met dieselfde harde stem waarmee hy sy nood voor Jesus uitgeroep het, God geloof. Hy het Jesus aanbid en Hom gedank vir die verlossing wat hy (én die ander) ontvang het. Lukas maak ’n skynbaar terloopse opmerking oor dié man se identiteit. Hy was ’n Samaritaan. Dit is iemand wat deur die Jode verag is. Vanweë sy melaatsheid kon hy egter saam met nege ander mense leef – wat Jode was. Vir die Fariseërs (16:14) wat gedurig op die agtergrond was, wou Jesus sekerlik hier ’n les leer. Lukas se vertelling roep ook die gelykenis oor die barmhartige Samaritaan (10:25-37) in herinnering. Verstaan die Jode dan nie wie Jesus is nie?

Die ontmoeting tussen Jesus en die Samaritaan wat omgedraai het om aan God eer te bring, ontwikkel in ’n gesprek waarin Jesus die vraag vra: “Is daar dan nie tien gereinig nie? Waar is die ander nege?” (vers 17). Jesus maak twee belangrike uitsprake na aanleiding van die reiniging van die Tien. Eerstens beklemtoon Jesus die belangrikheid om God te loof vir sy verlossing van mense uit die nood wat die lewe bring (vers 18). Tweedens erken Jesus die Samaritaan se optrede as reddende geloof (vers 19). Die Samaritaan het Jesus herken as God se gesagvolle Messias en aan God die eer gegee vir wat met hom (én die ander nege) gebeur het. Sy dankbaarheid en eervolle erkenning dat God hom gereinig en genees het, het hom nie net ritueel gereinig nie, maar ook ’n heel mens gemaak en met God versoen.

In Lukas 17:5 het die apostels vir Jesus gevra om meer geloof, na aanleiding van Jesus se uitspraak oor onvoorwaardelike vergifnis van ’n broer. Die Samaritaan is hier ’n voorbeeld van iemand met geloof wat verrassend werk; dat ware geloof jou red. God maak mense heel en stuur ons as vry mense om in geloof te leef. Die vreemdeling verstaan God se bedoeling met elke mens, maar die Jode reageer nie!

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Agtiende Week van Koninkrykstyd – Jaar C