Na aanleiding van Psalm 133 (lees 2020-vertaling)

Here, ek bring vandag ’n saak wat vir ons mense na aan die hart lê voor U. Die Psalmis benoem dit met die woord “broers”. Ek bid soos talle ander wat ek ken, vir gesinne en families, in die besonder vir die onderlinge verhoudinge tussen familielede.

Daar is dikwels onmin en verdeeldheid tussen lede van families, gesinne, volksgenote, gemeenskappe en selfs geloofsgenote, Here. Die Psalmis is bewus van dié werklikheid tussen “broers” en “susters”. Daarom verlang die bidder na salige eenheid.

Here, die verlange na eensgesindheid, harmonie en vrede waar mense lotsgebonde die lewe deel, is iets goed. Dit is uitdrukking van ware en betekenisvolle lewe. Dit is ’n teken van u seën op ons verhoudinge én heenwysing na U toe, deur wie ons seën ontvang.

Here, dit is treffend hoe die bidder oor die goedheid van samehorigheid tussen mense praat. Hy gebruik beelde om die geloofskarakter daarvan uit te druk, asook die plek waar seën sy oorsprong en tuiste het. Kosbare olie en dou van Hermon sluit wêrelde oop.

Die band tussen kosbare olie en die naam van Aäron plaas die verlange na eensgesinheid in verhoudinge, in die konteks van aanbidding tot U, Here. Dit roep ons op om ons verhoudinge in diens te stel van die eer van u Naam en die erkenning dat U God is.

Here, eensgesindheid tussen u mense is ’n saak van Gods-diens. Ons moet dit inoefen waar ons saam aanbid en uitleef waar ons daagliks met mekaar saam leef. Die salwende olie van ons priestelike lewe moet elke dimensie van ons menswees transformeer.

Die dou van Hermon wat op die Sionsberge afloop, is ’n beeld wat kontekstueel betekenis dra en krag put uit ervarings van mense wat hemelse dou vir daaglikse lewe en voorspoed benodig, Here. Hoe jubel die mense van die Karoo nie oor die reën wat die veld voed nie?

So herinner die Psalmis ons wat verlang na harmonie in ons betekenisvolle verhoudinge dat U ons seën en roep tot seën vir ander, Here. U is ons punt van ontmoeting.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – TWAALFDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD