Daar is niks gewoon aan ´n eerste liefde nie. Dit is ´n knop-op-jou-maag mallemeule rit wat lewenslange herinneringe laat. Kenners waarsku dat ons dit nie maar bloot as kalwerliefde moet afmaak nie, en dat dit vir jongmense ´n intense en emosioneel belaaide ervaring is. Rooskleurig. Of hartverskeurend. ´n Mens vergeet nie sommer jou eerste liefde nie.
In sekere opsigte lê so ´n eerste liefde die grondslag vir toekomstige verhoudings. Dit gee jongmense die geleentheid om na te dink oor dit wat vir hulle belangrik is, en dit wat hulle graag in ´n verhouding wil hê. Dit is nou te sê as die verliefdes wel dink. Want terselfdertyd gaan dié ervaring met splinternuwe en oorweldigende emosies gepaard. Daar is dikwels baie lag en baie huil. Dit word wyd verkondig en gevier. ´n Eerste liefde is nie juis berekend of weldeurdag nie. Dit is soms selfsugtig. En daar is nie noodwendig ´n langtermyn plan nie. Dit is eerder ´n holderstebolder rit wat jou uitasem en effe oorbluf agterlaat. ´n Storieboek-liefde.
Hierdie liefde is op geen manier ´n sinoniem vir die liefde waarvan die Bybel ons leer nie. Dit laat mens nederig om te besef dat ons as die kroon van God se skepping, sy eerste liefde is. God het ons lief met ´n liefde wat ons ook spraakloos laat – ons asems wegslaan. Ons is gemaak vir sy liefde. God het ons geskep vir ´n verhouding met Hom. Die mens wat God in die Tuin van Eden geskep het, was “baie goed”.
Hierdie was allermins ´n emosionele besluit. Dit was berekend. Weldeurdag. Onselfsugtig. En dit was deel van ´n plan, ´n plan waar alles ten goede sal meewerk vir dié wat God liefhet, vir hulle wat geroep is volgens sy wil vir hulle lewens. Uiteindelik het God se Seun die prys vir hierdie liefde betaal. Ons, nietige en sondige mense, kon só deel word van die heilige God se koninkryk en heerlikheid. Saam met Dawid in Psalm 8 kan ons ook wonder hoekom God met soveel liefde aan ons dink en vir ons omgee. Ons wat maar ´n nietige spikkeltjie in die groot heelal is.
Ons kan liefhê omdat God ons eerste liefgehad het. Wanneer God deur monde van sy profeet Sefanja met sy volk praat, sê Hy die volgende: “God is buitegewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel.” God was tevrede en opgewonde oor sy volk, sy weerbarstige volk wat so stadig geleer het. Sy liefde het dit alles omvou. Hulle gedra. Die weg gebaan. God vergeet nie sy eerste liefde nie.
Dit is ook hierdie liefde waaraan ons as gelowiges gemeet word. Wanneer ons sê dat ons glo – so sê die apostel Johannes – maar ons het nie lief nie, woon God se wonderbaarlike liefde nie regtig in ons nie. Hierdie eerste liefde lê waarlik die grondslag vir al ons verhoudings. Dit moet ons gedrag en ons denke rig en vorm. Dit is ware liefde.
Daar is voorwaar niks gewoon aan hierdie liefde nie. Dit is onmeetbaar, onpeilbaar, wonderbaar. Laat ons dit in die maand van liefde steeds wyd verkondig en vier: God het ons eerste liefgehad. God is liefde, juig ons harte. Ons is sy eerste liefde.
Geskryf deur Susan Goosen