JOHANNES 14:1-14 (2020-vertaling)

Ons volg die Johannesevangelie se vertelling van Jesus se verskynings op aarde ná sy opstanding uit die dood tot met sy hemelvaart. Die vyfde week van Pase in die Christelike Jaar gaan die Donderdag waarop Christus se kerk Hemelvaart vier vooraf. Daarna volg die tien dae voor die viering van Pinksterfees. Met die oog op ons naderende viering van Hemelvaart lei Revised Common Lectionary (RCL) ons terug na Johannes 14, waar Jesus nog voor sy kruisiging, vir sy dissipels sê Hy gaan na die huis van sy Vader om vir hulle plek voor te berei (vers 2). Met die lees van Johannes 14 in die week voor Hemelvaart, maak RCL ons reeds bewus van wat gelowiges met Hemelvaart herdenk. Dit wek by ons ’n verwagting en vooruitskouing oor die plek en betekenis van Jesus se hemelvaart in die leer en lewe van die kerk van Christus.

Nadat Jesus vir Judas Iskariot ontmasker het oor die verraad wat hy sou pleeg (Joh 13:26-27), het Judas die vertrek verlaat waar Jesus en die Twaalf aan tafel was (13:31). Jesus het toe vir die ander gesê Hy is nog net ’n kort tydjie by hulle en dat Hy weggaan, maar hulle kan Hom nie volg nie (13:33, 36). In hoofstuk 14 neem Jesus die weggaan-tema verder en praat oor die huis van sy Vader met baie woonplek. Hy gaan om daar vir hulle plek voor te berei (vers 2). In aansluiting by die verwagting van die vooruitskouing op die komende viering van Hemelvaart, lees ons hoe Jesus sy ontstelde dissipels bemoedig, vertroos en gerusstel oor die nuus wat Hy pas meegedeel het oor wat gaan gebeur: “Laat julle harte nie ontsteld wees nie.” Binne dié konteks van ontwrigting roep Jesus sy dissipels op om in God te glo, én in Hom (vers 1).

Die oproep tot geloof is die sentrale boodskap wat Johannes wil kommunikeer. Dit is presies die appél wat dié Skrifeel tot ons elkeen rig op weg van Paasfees na Pinksterfees. Ons word uitgedaag deur Jesus se vraag aan Filippus: “Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?” (vers 10). Die kern geloofsvraag is die herkenning van die eenheid tussen Jesus en die Vader. Die bewys dat die Vader in Jesus is, word geopenbaar in Jesus se woorde en sy werke. Wie Jesus se lewe en leer waarneem, sien daarin die Vader raak. Jesus noem twee gronde waarop die dissipels hul geloof in Hom en die Vader moet bou: Jesus se getuienis oor sy eenheid met die Vader en sy werke self. Wie vir Jesus sien, sien ook die Vader (vers 9).

Jesus se beeld om sy bestemming te beskryf wanneer Hy sy dissipels verlaat, is dié van “die huis van my Vader” (vers 2). Dit is ’n betekenisvolle verwysing. Volgens geleerdes is die enigste ander geleentheid waar Jesus dié uitdrukking gebruik met verwysing na die Tempel, in Johannes 2:16, waar Jesus die handelaars veroordeel. Die sentrale rol van die Tempel in die lewe van Israel, was dat dit die plek was waar hemel en aarde ontmoet het. In ons Skrifdeel sinspeel Jesus op ’n nuwe stad, ’n nuwe wêreld, ’n nuwe ‘huis’ (NT Wright). Hy verseker die dissipels dat hemel en aarde weer sal ontmoet wanneer God die hele wêreld nuut sal maak. Met Jesus se belofte verseker Hy die dissipels dat al sou Hy weggaan van hulle af, dit tot hulle voordeel sal wees. Hy sal hulle nie vergeet of alleen laat nie.

Die temas van Jesus se teenwoordigheid en geloof in Die Vader en in Jesus, word beklemtoon in Jesus se uitspraak in vers 13-14: “As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Vra (gebed) in Jesus se Naam beteken, namate ons Jesus meer intiem leer ken, word ons betrek in sy lewe en liefde, en word ons meer bewus van ons lewensdoel. Ons sal begin insien wat ons behoort te doen volgens ons kennis van Jesus, asook waarop ons moet fokus binne die sfeer van moontlikhede en watter bronne vir ons beskikbaar is. As ons Jesus sien deur die oog van geloof, sal ons steeds meer en meer in sy nuwe lewe inleef. Ons sal die diepste teologiese kennis van alles erken: Jesus en die Vader is een, en ons is in Hom en Hy in ons.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Vyfde Week van Pase – Jaar A