JOHANNES 20:1-18 (2020-vertaling)

Die week nadat die kerk van Christus Paasfees as hoogtepunt van die Christelike Jaar gevier het. Die nuwe kalender van die Revised Common Lectionary (RCL) maak ons egter daarvan bewus dat Pase méér is as een dag in die jaar. Dié perspektief wil die historiese viering van die Groot Vyftig Dae herwin; vanaf Paassondag tot met Pinksterfees. Daarom verwys publikasies soos Preaching The Revised Common Lectionary (Abingdon Press) na die Sondae wat volg op Paasfees, as Sondae “van” Pase. Die viering is ’n voortgaande gebeurtenis in die Kerk se lewe van gebed en verkondiging. Dan is Pinksterfees die laaste dag van die uitgestrekte Paasfees, wat die opstandingsgebeure en die toerusting (bemagtiging) van die Kerk saambind. Johannes 20:1-18 bied geleentheid om weer na te dink oor wat gebeur het die dag toe Maria Magdalena op Jesus se leë graf afgekom het (vers 1), hoe Jesus se binnekring dissipels reageer het en waaroor ons as ontvangers van hul getuienis beskik om ons gestuurde roeping as Kerk in die wêreld uit te leef. In dié meditasie is die fokus op die gedrag van die mense waaroor Johannes hier skryf.

Die eerste naam wat die Evangelis noem is dié van Maria Magdalena. Haar woorde aan Petrus in vers 2 dui daarop dat sy moontlik nie alleen was nie: “…en ons weet nie…”. Nietemin, sy was vroegoggend by die graf op die eerste dag van die week en het gesien die klip is van die graf verwyder. Sy het nie ondersoek ingestel nie, maar onmiddellik en haastig (sy het gehardloop) vir Simon Petrus en Johannes (die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het) gaan inlig oor wat sy by die graf gesien het: “Hulle het die Here uit die graf weggevat…” (vers 2). Die twee dissipels het eweneens onmiddellik en haastig op haar mededeling reageer en na die graf gegaan (vers 3). Dit is nogal komies hoeveel daar in die enkele verse gehardloop word. Dit lyk selfs na ’n wedloop tussen Petrus en Johannes waarin die jeug van Johannes seëvier (vers 4).

Nog ’n komiese waarneming is dat Johannes klaarblyklik nie weet wat om te doen toe hy by die graf aankom nie, asof hy die bus ingehardloop het en huiwer om op te klim. Soos Maria wat gesien het die klip is van die graf verwyder maar nie ondersoek ingestel het nie, sien Johannes die linnedoeke lê maar stel aanvanklik nie ondersoek in nie. Naas die gehardloop van Jesus se volgelinge beskryf Johannes ook dat van hulle sien (waarneem) maar nie ondersoek instel nie. Petrus, wat na Johannes by die graf aankom, tree egter doelgerig op. Hy gaan in die graf in (ondersoek) en sien dan eers die linnedoeke lê (vers 6). Miskien is dié gegewens onbelangrik. Moontlik is dit aanduiding van mense se persoonlikheid wat ons help verstaan hoe elkeen reageer op God se teenwoordigheid in ons lewe. Uiteindelik gaan Johannes wel in die graf in. Hy het ook gesien wat Petrus gesien het, netjies opgerolde kopdoek eenkant, maar iets het met hom gebeur toe hy dié keer sien: hy het geglo Jesus het opgestaan.

In ’n voetnoot skryf die Evangelis die dissipels het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moes opstaan nie en hulle het as’t ware verslae huis toe gegaan. Maar, Maria het by die graf bly talm. Toe neem sy weer iets ongewoon waar. Sy sien twee engelele binne die graf en deel met hulle haar ontsteltenis oor Jesus se afwesige liggaam. Daar by die graf nader Jesus haar terwyl sy onbewus is dat dit Hy is. Nadat Jesus haar naam genoem het, het sy Hom herken as haar Leermeester (vers 11). Jesus het vir Maria die opdrag gegee om sy dissipels te gaan inlig dat Hy na sy en hulle Vader opvaar. Weereens het Maria as boodskapper na die dissipels gegaan om hulle mee te deel waarvan sy by Jesus se graf bewus geword het. God het haar weer iets besonder laat sien en sy moes dit vertel: “Ek het die Here gesien” (vers 18). Waarvan het jy bewus geword met die viering van Paasfees wat jy moet gaan vertel?

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Week na Paasfees – Jaar A