Na aanleiding van Psalm 116:1-4, 12-19 (lees 2020-vertaling)
Here, saam met die psalmis wil ek graag vandag sê ek het U lief. Soms is die opwelling van my liefde vir U te oorweldigend om dit met gepaste woorde te beskryf. Maar wanneer die diep, warm emosie van liefde vir U my wese vul, móét ek dit op ‘n manier met U deel.
Here, vandag wil ek met U gesels oor twee vrae in my hart wat telkens opduik wanneer ek my liefde vir U wil uitspreek en met U wil deel. In die eerste plek wonder ek dikwels oor die redes vir, die motivering waarom ek U liefhet en begeer om U van harte te dien.
Die tweede vraag vloei natuurlik direk voort vanuit die antwoord op die eerste vraag. Hoe kan of behoort ek te lewe in die lig van die ontdekking waartoe ek kom as ek besef U oorlaai my/ons daagliks met ewige goedheid? My liefde vir U, Here, word deur u troue liefde opgewek.
Wanneer ek my hart ontleed vir die redes waarom ek op ’n gegewe tydstip my liefde vir U aanvoel, Here, word ek noogedwonge aangevuur om ondersoek in te stel na hoe U in my lewe teenwoordig is. Hierdie eerlike ondersoeke openbaar keer op keer U is bewus van my diep behoeftes.
Here, dankie dat U die liefde vir U in my hart opwek en ek daaruit beweeg word om met bewussyn te leef, sodat ek U betrokkenheid in ons daaglikse lewe kan herken en daaroor kan peins. Ja, ek ervaar hoe U na my/ons luister wanneer ons U aanroep en ons ons nood voor U bring.
Here, dit is wonderlik om bewus te wees van hoe U in en met ons besig is in elke moontlike situasie waarin ons mag verkeer. Wanneer angste van siekte of dreiging van dood my oorval, omvou U my met u troue liefde en beskerming. In benoudheid kan ek u Naam aanroep en U luister na my.
Here, die trou van u sorgende en deernisvolle liefde wek in my die drang om U te vergoed vir al u goeie dade. Ek weet dis nie moontlik om U te vergoed nie, maar ek begeer om U te erken vir wat ek voortdurend van U ontvang. Ek wil my geloftes aan U betaal voor al u mense. Ek is u dienskneg.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – DERDE WEEK VAN PASE