MATTEUS 5:13-20 (2020-vertaling)

Die A-siklus van die ‘Revised Common Lectionary’ volg Matteus se vertelling van Jesus se menswording en gehoorsaamheid aan sy Vader se gestuurde opdrag. Matteus 4:17 het Jesus se bediening in Galilea beskryf as verkondiging van die koninkryk en oproep tot bekering, asook lering en onderrig in hul sinagoges, met genesing van elke siekte en elke kwaal onder die volk (4:23). Nadat Jesus ’n kern groep individue begin versamel het vir toerusting en vorming as sy dissipels (4:18-22), het Hy die berg opgegaan, die posisie van leermeester ingeneem en sy dissipels geleer (5:1-2). Jesus se Bergpredikasie (Matt 5-7) skets die raamwerk vir die aangekondigde koninkryk van die hemele wat op hande is, asook wat die aard is van die nuwe gemeenskap waartoe Hy hulle geroep het (4:17).

Matteus 5:13-20 lei die hoof tema in waarop Jesus verderaan gaan fokus: “[…] dat Ek gekom het om die Wet of die Profete […] te vervul” (vers 17). In die res van die Bergrede verklaar Jesus wat sy ‘vervulling van die Wet of Profete’ presies beteken, sodat die skare aan die einde van die redevoering verstom was, “omdat Hy hulle geleer het soos iemand met gesag en nie soos hulle skrifkenners nie” (7:29). Ek sluit aan by Tom Wright se verstaan en uitleg van ons Skrifdeel, as Jesus se aanbied van ’n geheel nuwe bedeling waaraan Hy getrou sou bly. Dié nuwe bedeling is in werkliheid presies dit waarop Israel se ganse lewe en tradisie gerig was, maar wat hulle nie verstaan en uitgeleef het nie.

Met sy bediening in Galilea het Jesus tegelyk twee doelwitte op die oog gehad. Hy wou die Jode van sy tyd oortuig dat die beweging van die koninkryk van die hemele wat op hande is, die vervulling is van alles waarna Israel verlang het en waarin hulle glo. Jesus moes tweedens ook bewys dat Hy en sy volgelinge inderdaad geleef (en gesterf) het ooreenkomstig dié nuwe weg wat Hy aangekondig het. Ons Skrifdeel beskryf hoe Jesus albei punte vashou. Wat Jesus in Matteus 5:13-20 daar teen die berg leer, kan vandag weliswaar op alle Christene toegepas word. Die oorspronklike betekenis daarvan was egter ’n groot uitdaging vir Jesus se tydgenote.

God het in die eerste plek vir Israel geroep om sout vir die aarde te wees, maar Israel het geleef soos al die ander volke. Hulle lewenswyse was nie onderskeibaar nie. Die kritiese vraag is dus hoe moes God die wêreld teen verwering en vernietiging bewaar, terwyl Israel, sy verkore ‘sout’ vir die aarde, haar unieke funksie verloor het. Net só het God Israel ook geroep om die lig vir die wêreld te wees (vgl. Jes 42:6; 49:6), deur wie Hy sy helder lig in die donker wêreld kon laat skyn. Die mense vir wie God geroep het om sy ligdraers te wees, het toe deel geword van die duisternis. Daarom waarsku Jesus Jerusalem, die stad op die berg wat die baken van hoop vir die wêreld moet wees. Die uitdaging aan Jesus se volgelinge is hulle moet ’n teken vir die nasies wees dat God van Israel alleen God is.

Om reg te verstaan wat Jesus bedoel met die aanbreek van die koninkryk van die hemele en hoe dit ’n nuwe lewenswyse veronderstel waardeur God se heerskappy sigbaar word, was nie vir die Fariseërs en skrifkenners ooglopend nie. Hulle het immers die leer van die Ou Testament ernstig opgeneem en selfs probeer toepas. Jesus daag dié selfvoldane godsdientigheid uit. Hy kondig ’n leefwyse aan wat ’n voortsetting is van God se Verbond in die Ou Testament, maar wat radikaal nuut toegepas word met die aanbreek van die koninkryk van die hemele. Noudat Jesus gekom het, het daar ’n geheel nuwe weg vir Israel oopgegaan. Om God se Verbond in hulle lewe ’n werklikheid te maak, moet hulle hul gedrag verander; beide deur leer/onderrig, asook deur die verandering van hart en denke. Jesus het dit alles in sy persoon vervul. Dié uitsprake van Jesus was oorspronklik op Israel van toepassing. Nou is dit ook bedoel vir elkeen wat Jesus volg en op Hom hoop as hulle lewensbron; die Lig vir die wêreld wat op die berg aan ’n kruishout nuwe lewe gewek het.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Vyfde Week na Epifanie – Jaar A