JOHANNES 13:1-17, 31b-35 (2020-vertaling)

Dit is Donderdag van Groot Lydensweek (GLW) in die Christelike Jaar. Donderdag lei die derde deel van GLW in. Na Passie-/Palmsondag (eerste deel van GLW) en drie dae van Maandag tot Woensdag (tweede deel van GLW), breek die derde deel aan; die Paas Tridium, van drie dae: Maundi Donderdag, Goeie Vrydag waar ons die kruisiging van Jesus herdenk, en Paassondag, wanneer Christen gelowiges die opstanding van Jesus Christus feestelik vier. Saterdag tussen Goeie Vrydag en Paasfees staan tradisioneel bekend as Stil Saterdag, sonder liturgiese aktiwiteit, bewus dat Jesus se liggaam op die tweede dag in die graf was.

Volgens Rooms Katolieke gebruik staan Donderdag voor Goeie Vrydag bekend as ‘Heilige Donderdag’. Daar is ’n ander gevestigde tradisie ten gunste van die benaming Maundi Donderdag, na aanleiding van Jesus se woorde aan sy dissipels: “Ek gee julle ’n nuwe gebod” (Joh 13:34). So is die woord ‘maundi’ dan afgelei van die Latynse mandatum om ons aandag met Donderdag van GLW te vestig op Jesus se klem op liefde as inhoud en kenmerk van die lewe van Jesus se dissipels, in navolging van hul Here.

Die voorbeeld wat Jesus as Seun van die Mens (vers 31) op aarde gestel het en wat Hy in Johannes 13 aan sy binnekring dissipels demonstreer, is dié van dienende liefde; die mandatum wat Hy aan sy geliefdes stel in vers 34: “ Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”

Johannes 13 vertel hoe Jesus met ’n daad-gelykenis aan sy dissipels demonstreer wat die aard en betekenis van sy gestuurde bediening op aarde behels (vers 5): “Toe gooi Hy water in die waskom en begin om die voete van sy dissipels te was en dit met die linnedoek wat om Hom gebind was, af te droog.” Jesus het sy dissipels gewys op die voorbeeld karakter van sy daad-gelykenis, maar hulle ook uitgedaag. Daarmee het Hy die opdrag karakter van die voetwassing onderstreep (verse 14 en 17): “As Ek, julle Here en Leermeester, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. […] gelukkig is julle as julle dit doen.

Johannes 13 lei ’n nuwe fase in die Evangelis se vertelling van Jesus se aardse lewe in. Die fokus en beklemtoning sal voortaan verskil. Jesus bepaal nou sy aandag by sy dissipels: “omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, het Hy hulle liefgehad tot aan die einde” (vers 1). Johannes beskryf nou die voorwaardes vir dissipelskap en die wyse waarop dissipels met hulle Here verenig is, deel het aan sy lewe, asook aan sy lyding en verheerliking.

Om effektief oor die roeping en aard van dissipelskap te kan skryf, moet die betekenis van Jesus se bediening uitgeklaar en beskryf word. Presies dit doen die Evangelis op ’n merkwaardig verhelderende wyse, aan die hand van die daad-gelykenis van die voetwassing in hoofstuk 13. Die voetwassing toneel speel af binne die konteks van Jesus se laaste maaltyd saam met sy binnekring dissipels voor die Fees van Pasga en voordat Judas Iskariot wie se voete Jesus ook gewas het, Hom verraai en aan die Jode oorgelewer het om verhoor en gekruisig te word.

Johannes beskryf nie die maaltyd as sodanig nie, maar eerder die daad-gelykenis van voetwassing om die werklike betekenis van die maaltyd te beskryf. Jesus gee sy dissipels ’n voorbeeld om om ook so te doen.
Dat hulle gelukkig kan wees as hulle dit doen. Dan sal almal weet hulle / ons is sy dissipels. Is dit waar van my en jou? Verstaan ons werklik Jesus se voetewas daad-gelykenis?

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Donderdag van Groot Lydensweek – Jaar A