Ek is die verskil
“Ek verwys nie na die feit dat elke preek waarskynlik vir iemand in die gemeente iets beteken nie. Ek verwys na prediking wat ʼn geloofsgemeenskap aanraak en hulle in beweging bring.”
Waarom beweeg, en selfs manipuleer, predikers met min of geen eksegetiese inhoud, ʼn hele gemeente? Waarom is daar ander, met die beste bedoelings en inhoud denkbaar, wat net nie kontak maak met
baie (soms die meeste) van die gelowiges
in die erediens nie?
In Ek is die verskil gee Malan Nel ʼn praktiese ontleding van die verhouding persoon, persoonlikheid en prediking. Hy wys daarop dat waar daar ook al ʼn doeltreffende/effektiewe (gemeet aan Reformatoriese norme) en gewoonlik groeiende gemeente is, daar ʼn goeie kommunikator op die preekstoel is. Dit is bevestig in onderhoude met bekende predikers en dosente in die homiletiek in die VSA en uit navorsing in Nederland en Duitsland, asook in Suid-Afrika. Twee konsepte blyk prominent te wees by die prediking: persoonlikheid en kommunikasie.
Doeltreffende kommunikasie in die prediking is kompleks en kan slegs as sisteem verstaan word. Die prediker is deel van hierdie sisteem en funksioneer binne hierdie sisteem met sy persoonlikheid. Die skrywer ontleed op ʼn praktiese manier die rol van die persoon van die prediker, die verhouding persoonlikheid en persoon, persoonlikheidsontwikkeling, persoonlikheidstipes en die feit dat persoonlikheid kommunikeer.
Ek is die verskil bring ʼn nuwe dimensie by die prediking in Afrikaans – ʼn dimensie wat verreikende gevolge het vir die persone (en die persoonlikhede) wat die prediking as roeping en gawe ervaar.
Die boek is nou beskikbaar by CLF en kan hier bestel word.