JOHANNES 4:1-42 (2020-vertaling)

Die Revised Common Lectionary (RCL) se aansluiting by die Johannesevangelie, bring ons in die derde week van Lydenstyd by Johannes 4:5-42. Jesus ontmoet ’n Samaritaanse vrou by die fontein in die dorp Sigar en vra vir haar water om te drink. Dit volg op die nagtelike besoek van ’n Fariseër met die naam Nikodemus, aan Jesus; ’n leier van die Jode wat Jesus besoek het oor die die tekens wat Jesus verrig het (3:1-2). Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou is eweneens buitengewoon. Weer steek Jesus kulturele en godsdienstige grense oor; die historiese vyandskap tussen die Jode en Samaritane en die kulturele konvensie dat Joodse mans nie met vroue in die openbaar mag kommunikeer nie. Jesus laat ook nie toe dat die vrou se twyfelagtige agtergrond en sosiale uitsluiting Hom weerhou om met haar oor die ware aanbidding van God te praat nie. God het almal lief.

Dié oordenking fokus op die geleidelike ontwaking in die Samaritaanse vrou, totdat sy nie alleen vir Jesus herken as die Messias nie, maar ook die eerste getuie word wat aan die Samaritane gaan vertel van Jesus, sodat hulle uiteindelik bely: “ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is” (vers 42). Voor dié ontmoeting was Jesus besig met bediening in die landstreek Judea waar Johannes ook gedoop het (3:22-23). Toe sy bediening die aandag van die Fariseërs begin trek, het Jesus Judea verlaat en weer na Galilea vertrek (4:1-3). Jesus se roete na Galilea toe was wel die algemene roete, maar die Jode het dit vermy omdat die Samaritane soms gewelddadig was teen Joodse reisigers. Dit blyk dat God dié ontmoeting bepaal het: “Hy moes egter deur Samaria gaan” (vers 4, 2020-vertaling).
Soos met die ontmoeting tussen Nikodemus en Jesus, gebruik Johannes in ons teks weer een van sy gunsteling literêre vorme om sy vertelling in te klee; ’n verhaal wat dialoog tussen Jesus en die Samaritaanse vrou stimuleer, lei tot misverstand en gee Jesus geleentheid vir ’n lang gesprek waarin Hy die interpretasie van sy gespreksgenoot oor wat Hy gesê het korrigeer. In dié geval veroorsaak Jesus se woorde, “en Hy sou vir jou lewende water gegee het” (vers 10) die misverstand. Dit lei tot die vraag van die Samaritaanse vrou: “Meneer, u het nie eers ’n skepding nie, en die put is diep. Waarvandaan kry u dan die lewende water” (vers 11).

Johannes sluit telkens in sy vertelling by ’n alledaagse gebeurtenis en menslike behoefte aan om die dieper geestelike en teologiese betekenis van Jesus se gestuurde bediening uit te lig. In dié toneel is die aansluitingspunt Jesus se liggaamlike behoefte aan drinkwater vanweë sy dors. Jesus vra die Samaritaanse vrou wat op ’n ongewonde tyd van die dag kom water skep het, om vir Hom water te gee om te drink (vers 7). In haar reaksie op Jesus se versoek wys die vrou op die historiese verhoudinge tussen die Jode en Samaritane. Hulle meng nie. Sy wys eintlik Jesus se versoek af. Jesus reageer deur haar op twee geestelike punte te wys: die gawe van God en wie dit is wat haar vra vir drinkwater. Jesus noem dat indien sy dit geweet het, sou sy aan Hom lewende water gegee het. Die verwysing na “lewende water” lei tot misverstand. Die vrou het klaarblyklik gedink aan lopende water (vers 11).

Die misverstand oor lopende water het Jesus geleentheid gegee om die vrou bewus te maak van ”’n fontein van water wat opborrel tot die ewige lewe” (vers 14). Dit het by die vrou ’n verlange gewek na dié water wat haar natuurlike dors vir ewig sou les. Sy het nog nie verstaan wat Jesus bedoel nie. Die opvolgende gesprek oor haar man en die plek waar God aanbid word het die sluier verder vir die vrou gelig. Sy was bewus dat die profete die koms van die Messias wat Christus genoem word, voorspel het (vers 25). Dié uitspraak van die vrou het Jesus geleentheid gegee om Hom direk aan haar bekend te stel: “Ek is, is die Een wat met jou praat” (vers 26). Sy het Hom herken as die verwagte Messias en gaan vertel dat sy ’n besondere persoon ontmoet het (vers 29). Die lig het gaandeweg deurgebreek.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Derde Week van Lydenstyd – Jaar A