Na aanleiding van Psalm 86:1-11, 16-17 (lees 2020-vertaling)

Here, soos met al u kinders bevind ek myself ook dikwels in omstandighede wat té uitdagend is om te hanteer. Die heerlike troos en versekering vir gelowiges wat in noutes beland, is dat ons U mag aanroep en daarop kan vertrou dat U u oor na ons draai én ons noodroepe beantwoord.

Here, ek voel soms skaam oor die dinge wat ek voor U lê as krisisse, terwyl ander se omstandighede in vergelyking werklik benard is. Hoor net die psalmis se intense oproep tot U en homself in sy situasie beskryf as magteloos en behoeftig. Ek dink ek was al op so ’n plek in my lewe nie.

Ek wonder oor mense se ervaring en beskrywing van hul nood en behoeftes, Here. Die intensiteit en emosie van hul woorde gee uitdrukking aan ervarings wat baie van u kinders nog nooit beleef het nie. Ek is een wat redelik sag deur die lewe behandel is. Weet U ook van my nood?

Here, ek sit met ’n stukkie spanning in my verhouding met U. Ek het my immers voorgeneem om heelhartig ontsag vir u Naam te hê. Ek hou vas aan u troue liefde vir almal wat na U roep. Dit voel vir my ek roep die hele dag lank na U. Is my situasie wel ernstig genoeg om U daarmee op te saal?

Dit is seker vir U vreemd dat ek oor dié kwessie spanning ervaar, Here. U is immers my God na wie ek hunker. U is die Een wat my lewe beskerm. Dit moet dan tog beteken dat wat ek ookal ervaar as benoudheid of druk, vir U ook belangrik is. U weeg seker nie eers ons versoeke op nie?

Daar is nog iets wat by my opkom wanneer ek oor hierdie spanning in myself nadink, Here. As ek dan sou dink my eie situasie is minder benard as byvoorbeeld van vreemdelinge wat uit die land gedeporteer word, kan ek mos met U oor hulle ook praat? Ek kan mos vir ander ook by U smeek?

Here, ek dink wat ek met hierdie stamelende gebedswoorde wil sê, is dat ek maar net begeer dat U my u pad leer. Gee u krag aan my, u dienskneg, sodat ek kan onderskei aan wie se nood en behoefte ek eerste moet dink. Maak my hart sag vir die worsteling van ander, maak my dakbaar vir u genade.

U is my God, Here.
Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – VIERDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD