Na aanleiding van Psalm 130 (lees 2020-vertaling)
Here, vandag se gebed word opgeroep deur die tema van lyding, u lyding, waaraan Lydenstyd in die Christelike jaar ons as Christus se kerk herinner. Jesus, ons volg U op die weg van u vernederende en veragtende bediening onder sondaar mense hier op aarde. Ons is opnuut bewus van die diepte van u lyding, Cristus, ons Here.
Die psalmis verwoord sy persoonlike ervaring van menslike lyding in die vorm van ’n klaggebed. Here, hy roep U aan vanuit ’n plek van worsteling en verknegting, omdat hy weet U ken en verstaan sy omstadighede, sy eksistensiële ervaring. Hy verkeer in dieptes, roep na U om hulp en vertrou U hoor sy smeekgebede.
Here, ek ken self ook die ervaring van dié gelowige bidder wat in benoudheid verkeer as gevolg van omstandighede in ons wêreld. Ons verkeer so dikwels in angs en vrees. Daarom raak die bidder se pelgrimslied my, op sy pad om U te aanbid. Terwyl ek gereed maak vir u teenwoordigheid, flits my nood voor my. Luister tog!
Die psalmis beklemtoon nóg ’n rede vir sy roep uit sy diepte van benoudheid, Here. Hy is beangs oor sy sondeskuld teen U en sy naaste. Die bidder vrees die vernietigende gevolge van sonde in ’n mens se lewe. Hy keer tot U vir vergifnis en bevryding van sy sondeskuld, omdat hy weet u oordeel is finaal en ewig.
Dié insig van ons Ou-Testamentiese geloofsvoorganger, naamlik dat daar by U vergifnis is, Here, wek in ons die hoop op volkome bevryding. Dit motiveer ons om in Lydenstyd te peins oor die weg wat U in Christus gebaan het om ons uit die dieptes van nood te bevry, waarin ons sondeskuld ons gedompel het.
Here, die belydenis van ons gelowige voorganger dat daar by U vergifnis is, staan nie in die lug nie. Hy bevestig sy hoop dat U sy sondeskuld sal verlos, met die getuienis van u troue liefde in die geskiedenis van Israel. U het Israel van al hulle sondeskuld bevry. So het U ontsag afgedwing. U wek in my en my geslag nuwe hoop.
Here, ek nader tot U saam met geloofsgenote as mense wat van sondeskuld bevry is. Ons is nie tydloos vasgevang in die diepstes wat ons knel nie. U troue liefde het vir ons deurgebreek, ons die betekenis van hoop kom wys. Nou leer Lydenstyd my/ons om op U te wag met ons hele wese. U skenk volkome bevryding.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – VYFDE WEEK VAN LYDENSTYD