Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Die Zulu’s groet mekaar met die volgende woorde: “Sawubona”. Dit beteken letterlik: “Ek sien jou.”

Dit is ´n groet, maar ook ´n erkenning van die menswaardigheid van die persoon wat voor jou staan. “Ek sien jou raak tussen al die ander mense op die sypaadjie. Ek sien jou daar waar jy werk. Ek sien nie net my inkopies, die rekenaar of die toonbank raak nie. Voordat ek iets vra of sê, of selfs wanneer ek nie nodig het om te praat nie, wil ek hê jy moet weet: ‘Ek sien jou.’.”

Ons wil graag raakgesien en geag word. Ons wil weet dat ons nie maar ongesiens verbygaan nie. Dat dit wat ons doen, die persoon wat ons is, ´n indruk maak op ander. Ons wil weet dat ons behoeftes en opinies tel. Ons stap nie maar bloot by mekaar verby nie. “Ek sien jou.”

Hierdie was ´n uitstaande kenmerk van Jesus se bediening op aarde. Hy het mense raakgesien. Hy het diegene raakgesien wat almal misgekyk het. Hy het diegene raakgesien wat ander eerder wou miskyk. “Ek sien jou. Ek sien jou, Maria Magdalena. Saggeus. Matteus. Die vrou van Nain langs die liggaam van haar seun. Jy, die vrou wat ongesiens aan die soom van my kleed geraak het. Ek sien julle, die tien mans wat melaats is, die tollenaars en sondaars. Wanneer almal julle miskyk, sien Ek julle.”

Jesus kon ook verby die uiterlike kyk en die harte – die bedoelings – van mense verstaan. Hy kon sien waar die nood regtig is. Hy kon bybedoelings, oneerlikheid, trots of ´n diepe afhanklikheid en ootmoed raaksien. Toe die verlamde man se vriende hom deur die dak laat sak, het Jesus nie in die eerste plek sy gebrek aangespreek nie. Dit was ´n bysaak. “Jou sondes is vergewe. Neem dan jou draagbaar en gaan huis toe. Ek sien jou. Ek sien jou hart. Ek weet wat jy nodig het.”

Dit troos ons om te weet dat Jesus ons steeds raaksien. Daar waar jy in jou kantoor sit, skottelgoed was, water met ´n kruiwa aanry, langs ´n siek kind se bed sit. Ons is nooit alleen nie. God sien ons.

Maar meer nog: ons Vader beloof dat ons name op sy handpalm gegraveer is. “Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne.” Hy ag ons. Ons is belangrik. Ons lewens, ons behoeftes, ons vreugdes en vrese gaan voor Hom nooit ongesiens verby nie. Die Here ken al die dae van ons lewensboek, Hy weet wat ons gaan dink nog voordat die gedagtes by ons opkom. Hy ken ons deur en deur. Hy is reeds van voor ons geboorte intiem by ons lewens betrokke. Hy kan ons nie vergeet nie. God sien ons.

Indien ons regtig Jesus se hande en voete op aarde wil wees en sy boodskap wil uitdra, sal ons mekaar ook op ´n nuwe manier moet raaksien. Regtig raaksien. Ons sal verby sogenaamde grense en verskille moet kyk en mekaar se behoeftes en nood moet erken. Sawubona. “Ek sien jou.”

 

Deur Susan Goosen