Na aanleiding van Psalm 116:1-2, 12-19 (lees 2020-vertaling)

Here, ek wonder in Koninkrykstyd van die Christelike Jaar oor hoe iemand wat met die mond bely hy of sy het U lief, hul dankbaarheid, waardering en erkenning vir wat U elke dag gee, aan U kan oordra, kan uitleef en veral in taal kan stel. Wat is geskikte woorde om my intensies te beskryf?

Die Psalmis gryp my aan die hart, Here. Hy/sy bely sonder skroom sy/haar liefde vir U en kan presies die rede verklaar vir sy/haar opregte liefde vir U. Die taal van die Psalmis is beeldryk. Hy/sy motiveer sy/haar liefde vir U in terme van u oor wat U na hom/haar draai. U luister!

Here, dit is nie regtig die motivering vir my dankbaarheid teenoor en liefde vir U, wat my na geskikte geloofstaal laat soek nie. Ek kan soos die Psalmis vele voorbeelde noem van hoe U altyd luister na my stem en smeekgebede, wanneer ek U aanroep. U goeie dade is talryk. Ek herken en erken dit.

Here, ek het op my lewenspad bewus geword hoe waar die Psalmis se belydenis is oor hoe hoog U die lewe ag van troue volgelinge. Ek glo dit is nie u wens dat getrouegelowiges die dood voortydig moet ingaan nie. Ek is oortuig U begeer ons verlossing en ons lewensvreugde onder u genade.

Wat wel vir my moeilik is, Here, is om op bevredigende wyse te sê dat en hoe ek op u onverdiende genade en oorvloedige beskerming behoort te reageer. Ek dink ek verstaan iets van die Psalmis se hart in die onderneming om geloftes aan U te betaal. Ek hoor die intensie. Dit is egter die ‘betaal’ wat pla!

Here, is daar maniere van praat wat dit vir ons moontlik maak om te sê dat ons erkenning wil gee vir die goeie dade wat U ons laat toekom? Is daar woordeskat buite die konteks van ekonomiese begrippe soos “betaal”, wat kan beskryf hoe graag ek my dankbaarheid aan U wil betoon?

Ja, Here, ek maak geloftes aan U. Ek onderneem dikwels om U voortaan meer getrou te dien. Dit is waar, en ek wil elke opregte ondernemings van harte nakom. Maar, ek wil my oorgawe aan U nie beskryf as finansiële transaksie nie. Ek wil eerder my intensie bewys in toewyding en aanbidding.

Here, ek het U opreg lief en wil my aan U toewy. Wanneer ek geloftes aan U maak, bedoel ek om U alleen met my hele wese te dien en te vertrou. Hoor asseblief my hart.
Amen.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – DERDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD