Na aanleiding van Psalm 13 (lees 2020-vertaling)

Here, die psalmis beweeg my vandag om by U te kla oor my en talle ander gelowiges se ervaring van tydperke en periodes waarin U klaarblyk afwesig, afsydig, onsigbaar en ontoeganklik is. In periodes soos hierdie, worstel ek met vrae oor u lankmoedigheid en mỳ ongedurigheid.

Here, deel van my worsteling om u tydsraamwerk en my gemoedstoestand in tye van wag en vertrou ter versoen, is dat ek die kategorie van geloof en vertroue vewar met die ervaring van tyd; asof die afwesigheid van kontak met U ’n misplaasde verstaan van tyd aanneem. Hoe lank nog?

Daar is tysgleuwe, Here, waarin dit vir my voel asof U my vergeet, of my doelbewus ignoreer – U van my wegdraai. Daar is ook langer en korter momente in my leeftyd, waar ek gebuk gaan onder kwellinge en kommer in my gemoed, maar ervaar dat U nie opdaag nie. U bly te lank weg.

Wanneer ek oor my ervaring van u afsydigheid dink, Here, kom dit in my gedagtes op dat U dalk doelbewus tydsduur en die motief vir handeling verbind. By my leef die motief vir handeling in die vorm van ongeduld. Vir U is die uitstel vir handeling dalk lankmoedigheid om verandering te sien.

In my ongeduld wil ek hê U moet my onmiddellik raaksien en gou antwoord, Here. Maar, as ek probeer verstaan dat U geduldig en lankmoedig is, omdat U verandering in my wil laat gebeur, of omdat U verder sien as net dié oomblik, dan kry die ‘Hoe lank nog?’-vraag ’n ander nuanse.

Here, die psalmis besef Goddank dat die lewe nie net deur die bril van tydsduur beoordeel kan word nie. U herinner die bidder aan die kategorie van vertroue op U in tye van nood, asook aan u wesenskenmerk van troue liefde. Dié dimensies van geloof open ons oë vir u toekoms, wat nou al aanbreek.

Dankie, Here, vir die hoop wat U in ons tye van ongeduld en gebrekkige insig laat deurbreek. Dankie dat U lankmoedig is en ons geleentheid bied om met die oog op u nuwe toekoms, hierdie wêreld anders te sien en te beleef. Dankie vir u hoop, wat my hart laat juig en u goedheid laat besing.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – VYFDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD