‘Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.’ Psalm 143:8

Elke oggend wanneer jy jou oë oopmaak, lê ’n splinternuwe dag voor jou uitgestrek. ’n Dag wat nog nooit was nie, en ook nooit weer sal wees nie.

Jy is ook nie meer dieselfde mens as wat jy was voordat jy gaan slaap het nie. Jou liggaam het nuwe selle gemaak, jou naels en hare het ’n entjie gegroei, dooie hare het uitgeval, jou spysverteringskanaal het kos verteer en opgeneem, gifstowwe is uitgeskei, jou brein het die vorige dag se ervarings en gedagtes georden. Jy word elke oggend as ’n meer ervare mens wakker – fisies ouer, maar op ’n manier ook jonger.

As gelowige, is elke nuwe dag ook ’n geleentheid om geestelik te groei en sterker te word.

‘Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.’ 2 Korintiërs 4:16

Jy kan niks doen aan wat verby is nie, en jy het ook min beheer oor wat die nuwe dag inhou, maar jy kan jou hoop op die Here vestig. Soos die Psalmdigter, mag jy vra om sy liefde elke môre opnuut te ondervind.

Ten spyte van wat gister gebeur het, of die dag of jaar voor dit. God se liefde slaan elke dag ’n nuwe blaadjie om.

‘Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.’ Klaagliedere 3:21-23

Wat gaan jy met hierdie nuwe dag maak?

Jou glimlag aan ’n vreemdeling kan dalk vandag iemand se hele lewe verander. Jou uitleef van die Evangelie mag iemand se laaste kans wees om reg te kies. Jou besluit om meer goedgesind en hartlik op te tree, mag dalk net al wees wat nodig is om ’n gebroke verhouding op die herstelpad te sit.

Doen vandag iets wat jou nader aan jou doelwit gaan bring. Iets wat jou drome ’n werklikheid kan maak.

Jy gaan hierdie dag nooit weer oor hê nie.

‘Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.’ Psalm 118:24

Geskryf deur Madeleine Venter