JOHANNES 17:1-11 (2020-vertaling)

Die week in die Christelike Jaar tussen die Fees van Hemelvaart en Pinksterfees (24 Mei). Revised Common Lectionary (RCL) neem ons na die uitsonderlike gebed van Jesus in Johannes 17, voor Hy volgens die Johannesevangelie se vertelling gevange geneem en uiteindelik gekruisig is. Hoofstuk 17 het ’n tweeledige funksie in die Johannesevangelie. Enersyds, sluit dit die eenheid wat in 13:1 begin af en bied ’n smevatting van die betekenis van Jesus se menswording asook van die evangelieboodkap. Andersyds, ls dié hoofstuk voorbereiding vir die Lydensverhaal (Passie) self, aangesien die toewyding van die Seun waarna die gebed verwys, in die Lydensverhaal beskryf word. Daar is Skrifverklaarders wat dié hoofstuk verklaar as Johannes se uitbreiding en interpretasie van Jesus se gebed in Getsamene soos in Lukas 22:42 vertel.

Jesus se gebed bestaan uit drie hoofdele. In vers 1-8 bid Jesus vir Homself, in vers 9-19 vir die dissipels van sy eie tyd, en in vers 20-26 vir gelowiges van die toekoms. Dié hoofstuk sou Jesus se hoorders destyds herinner het aan die voortgaande lyn van die woord wat hulle gehoor het (vers 20), asook aan die woord wat hul voorgangers gehoor het (vers 14), én hulle sou dié woord herken het as Jesus self, Woord van die lewe en die Woord van God. Die onderdele van die gebed word met mekaar verbind deur herhalende woorde en frases. So word die tema van die eerste gedeelte byvoorbeeld in die derde deel opgeneem sodat verse 25d tot 26b ooreenstem met die tema van die eerste deel (vers 2), naamlik die ewige lewe.

Die fokus van ons Skrifdeel is op die eerste deel (vers 1-8) en op drie verse van die tweede deel (vers 9-11). Die kern gedagte van vers 1-5 is Jesus se heerlikheid: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun” (vers 1). In vers 6-8 bid Jesus vir die mense wat gedurende sy aardse bediening tot geloof in Hom gekom het: “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het” (vers 6). In vers 9-11 bid Jesus dan vir sy dissipels en vir hulle lewe in die wêreld: “Ek bid vir hulle […] wat U aan My gegee het […] Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is nog in die wêreld […] bewaar hulle wat U aan My gegee het in u Naam […]”.

Die fokus van die gebed is deurgaans op Jesus, die gewer van die ewige lewe en op diegene wat met Hom verenig is. Die eerste deel van die gebed (vers 1-8) bereik ’n Christologiese hoogtepunt: die woord van God is die verklaring van God se waarheid in die persoon van Jesus: “Die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee […] En hulle het geglo dat U My gestuur het” (vers 8). Johannes verklaar dat die kern wat God se kinders tot eenheid saamvoeg, nie meer in die eerste plek die Torah as teken van God se verbond is nie, maar wel die Woord van God wat vlees geword het, Jesus Christus, wie die waarheid van die lewe openbaar deur God te openbaar.

In Jesus se gebed lê Hy klem op die eenheid wat Hy met die dissipels in die Vader het: “[…] bewaar hulle wat U aan My gegee het in u Naam, sodat hulle, net soos Ons, een kan wees” (vers 11). Die sinspelings in hoofstuk 17 bied die versekering dat die Here vir wie hulle aanbid, deurlopend by hulle is om hulle op te bou in eenheid met mekaar deur hulle eenheid met en verbintenis aan Hom. Dié eenheid is die gevolg van die Here se toewyding en self-offer, wat juis die sentrale boodskap en heenwysing is van die sakrament van die nagmaal (‘eucharistie’; 1 Kor 11:26), en waarborg is van die vervulling van Jesus se gebed dat almal een mag wees in Hom. Jesus het die Vader se Naam bekend gemaak aan die mense wat God vir Hom gegee het (vers 6). Hy sal God se Naam ook verder bekend maak sodat God se liefde ook in toekomstige geslagte kan wees, en Jesus in hulle (vers 26). So is ek en jy ook ingesluit in Jesus se gebed.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Sewende Week van Pase – Jaar A