JOHANNES 9:1-41 (2020-vertaling)

In die vierde week van Lydenstyd bring die Johannesevangelie ons by ’n derde persoon met wie Jesus ’n lewensveranderende ontmoeting vir daardie mens het. Naas die ondersoekende nagtelike besoek van ’n Fariseër met die naam Nikodemus, aan Jesus (3:1-2) en Jesus se God-bepaalde kennismaking met ’n Samaritaanse vrou oor die ongewone middaguur by die fontein van Jakob in die Samaritaanse dorp met die naam Sigar (4:5-6), lei Revised Common Lectionary ons dié week na ’n oënskynlik toevallige interaksie van Jesus met ’n man wat van sy geboorte af blind was (9:1). Johannes skryf Jesus het hierdie man in die verbygaan gesien (vers 1). Dit was eintlik sy dissipels wat Jesus van die man bewus gemaak het (vers 2). Hulle vraag aan Jesus oor wie se sonde die oorsaak is van die man se aangebore blindheid, bied die raamwerk vir Johannes se literêre vormgewing van sy vertelling

Die dissipels se vraag oor sonde as die oorsprong van die man se blindheid het opgekom vanuit die teologiese opvatting binne die Joodse gemeenskap dat siekte en gebrek die gevolg was van sonde in ’n mens se lewe. Indien dit nie die sonde van die persoon self was nie, moes die oorsaak gesoek word in die lewe en gedrag van die ouers. Jesus weerlê dié interpretasie oor die verskynsel van blindheid as aanduiding van sonde by die man of sy ouers. Hy korrigeer sy dissipels se teologiese veronderstelling agter hulle vraagstelling. Jesus open ’n radikaal ander perspektief op die man se fisiese blindheid, asook op die geestelike blindheid van die Fariseërs (vers 40-41), verteenwoordigend van mense wat nie wou glo (kon insien) Jesus is die Seun van die Mens nie (vers 35). Vir Jesus word dié ontmoeting ’n geleentheid vir die openbaring van God se dade en die herkenning van Jesus as God se Gestuurde deur wie God in hulle midde werk: “So lank as wat Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld” (vers 5).

Johannes se vertelling oor die openbaring van God se werke in Jesus se herstel van die blindgebore man se sig, ontplooi langs ten minste drie lyne. In ’n eerste lyn gebruik Johannes beelde en taal wat herinner aan God se skepping aan die begin, soos wat Genesis 2 en 3 God se skeppingswerk verhaal. Jesus gebruik grond en speeksel om modder te maak wat Hy aan die blinde se oë smeer sodat hy kon sien nadat hy die modder met die water van die Siloam bad afgewas het (vers 6-7). Jesus herskep die blinde se donker bestaan van bedel en sosiale uitgeworpenheid. Hy word ’n nuwe skepsel: “toe hy terugkom, kon hy sien” (vers 7). In die nadraai van Jesus se herskeppingswerk in die lewe van die blinde man, verhaal Johannes die reaksie van onder andere die Fariseërs wat nie die dade van God wou erken in wat Jesus gedoen het nie. Hierdie tweede lyn van Johannes se vertelling bring weer die tema van sonde ter sprake. Nou is dit die Fariseërs wat Jesus as sondaar verdoem (verse 16, 24). In dié ontkenning van Jesus as die Seun van die Mens, word Jesus se aardse lyding ten diepste blootgelê.

Die derde lyn in Johannes se vertelling toon hoe die blindgebore man reageer op wat in sy lewe gebeur het en hoe hy Jesus as die man wat sy oë met modder oopgemaak het aan almal wat wou weet bekend gemaak het (vers 11). Uiteindeliklig het Jesus hom weer opgesoek (vers 35) nadat hy uit die sinagoge geban is (vers 34), omdat hy Christus openlik bely het (vers 22). Johannes beskryf aangrypend hoe die lig gaandeweg vir hierdie man deurgebreek het. Nadat hy die modder van sy oë met die water van Siloam afgewas het, het hy “begin sien” (vers 11). Hy het aanvanklik nie geweet wie Jesus is nie (vers 11) en waar Hy Hom bevind nie (vers 12). Hy het egter geweet iets buitengewoon het met hom gebeur en hy het nie geswig voor die vyandige ondervraging van die Fariseërs nie. Hy het ook nie toegelaat dat die mense se negatiewe beoordeling van Jesus sy lewensveranderende ervaring misken nie (vers 32-33). Totdat Jesus weer voor hom kom staan het en hom uitgenooi het om te glo in die Seun van die Mens (vers 35). Die lig van God se genade het finaal vir hom deurgebreek en hy kon ook geestelik sien: “’Ek glo, Here!’ En hy het Hom aanbid” (vers 38). Ja, Jesus het gely sodat ons kan sien en lewe.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Vierde Week van Lydenstyd – Jaar A