Gebed na aanleiding van Psalm 51:1-12 (lees 2020-vertaling)

Here, vandag maak die psalmis vir my ’n venster oop op ’n tema waaroor mense tans skepties is. Om oor sonde te praat word maklik afgemaak as slegte smaak in goeie geselskap, en verwerp as outydse geloof van die onmondige mens.

Maar, as ek na die optrede van die sogenaamde mondige mens van vandag kyk, en sien hoe ons mekaar en die skepping verrinneweer, vermoor en afknou, Here, groei die oortuiging in my dat ons met groot erns moet besin oor sonde.

Ek besef die agtergrondskets van dié psalm laat ons dikwels eensydig oordeel dit is koning Dawid se storie en nie op ons van toepassing nie, Here. Ook sy pleit om genade kan ons die sonde-tema laat miskyk, asof sonde en genade uitsluitend is.

Natuurlik is u genade vir ons mense deurslaggewend, Here. Hoe leef ons tog daarsonder? En dit is juis Dawid se besef van sy sonde, wat hom dryf om genade by U te soek. Wat my gees hier prikkel, Here, is Dawid se besef van sy sondigheid.

Oor dié besef van sonde, die erkenning daarvan in sy lewe en openbaarmaking daarvan voor U, wil ek in my gebed met U kom praat, Here. Die erns van en uitgebreide woordeskat oor sonde in Dawid se klag, durf ons nie ligtelik verbygaan nie.

Here, wek by my ’n heilige erns oor sonde in my lewe. Maak my bewus van die teenwoordigheid daarvan in alles wat ek dink, doen, sê én nalaat. Ek wil eerlik wees oor my oortredings; erken my sonde is altyd voor my. Ja, in sondeskuld gebore.

Here, die sonde wat ek van nature doen, is teen U alleen, maar dit skend my naaste en u skepping. Laat u Gees my van dié verskriklikheid bewus hou. Mag ek nie begin dink my oortredings is ligtelik en onskuldig nie. Nee, dit verdien u oordeel.

Here, dankie dat ek met U oor my sonde kan praat. U was my skoon van my sondeskuld. U reinig my.
Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

RCL JAAR C – VEERTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD