Na aanleiding van Psalm 72:1-7, 10-14 (lees 2020-vertaling)
Here, in die week van Epifaniefees in die Christelike jaar, voeg ek my pleitgebed by dié van die psalmis (Salomo), dat iets van Christus se verskyning wat ons in Epifanie vier, mag deurbreek in die beslissings en geregtigheid van aardse regeerders, leiers, konings en heersers.
Here, ons nader Epifaniefees met verwagting om elke jaar iets nuut te ontdek van Jesus wat as God in ons wêreld verskyn het. Eintlik is die woord “ontdek” verkeerd, want Epifanie gee uitdrukking van iets buite ons; U laat die lig skyn, U manifesteer as God, U openbaar Uself.
Dit is presies waarvoor ons pleit wanneer ons saam met die psalmis bid vir diegene wat U in ons tyd roep en aanstel om leiding te neem in gemeenskappe en om oor nasies te regeer. Here, mag u lig, manifestasie, openbaring deur vrugbare mense-kanale vloei en u koninkryk kom.
Die Epifanie-verwagting aan die begin van 2026 om Jesus in ons wêreld te sien, Here, word aangevuur deur ’n visie op die toekoms waar die Messias Ryk in volheid aanbreek. Ons gebed is vol hoop dat heersers en leiers kanale mag
wees waardeur u liefdevolle genade na die wêreld vloei.
Here, my gebed vir vandag se regeerders in die lig van Epifanie, is dat hulle God-geïnspireerde kanale van u genade mag wees. Met geloofsgenote pleit ek dat die visioen van ’n genadige, regverdige en vredevolle samelewing sal gestalte kry, omdat Jesus se karakter neerslag vind in mense.
Here, my pleitgebed is minder gerig op die uitbreiding van wêreldleiers se mag en dat ondergeskikte nasies skatplig en belastings aan maghebbers sal betaal. My gebed is dat leiers méér menswaardig sal wees omdat Jesus sy verskyning in hul harte gemaak en u wil aan hulle geopenbaar is.
My gebed in Epifanie, Here, is dat Jesus nuut sal verskyn in gestaltes van oorvloedige vrede, redding van behoeftiges wat om hulp roep en magteloses wat nie helpers het nie. Mag die koning wees soos reēn wat neerdaal op ’n gesnyde grasveld, soos reënbuie wat die aarde deurweek.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – WEEK VAN EPIFANIE