Na aanleiding van Psalm 2 (lees 2020-vertaling)
Here, in die week ná Sondag van Verheerliking in die Christelike Jaar, onthul die glansryke heerlikheid van Christus se koningskap talle gebreke in ons selfvoldane wêreld. Terwyl ons Christus se skynenede heerlikheid liturgies vier, ontmasker die psalm aardse konings en heersers wat hulle teen u heerskappy verset.
Die kern waaroor ons tot U bid, Here, word skerp benoem in dié kroningspsalm wat die bidder aan ons voorlê. Wanneer u gesalfde koning op Sion, u heilige berg, plek inneem om te regeer, sien hy ’n uitdagende wêreld waarin hy U moet dien: rustelose volke, nasies met nuttelose planne, heersers wat teen U saam span.
Here, wanneer ons U in dié dae nader waar U in heerlikheid oor u skepping regeer, kan ons die name afrits van lande, streke en volke waar rustelose wanorde u mense se lewens omwoel. Ons ken name en gesigte van leiers en konings wat beplan en handel asof U nié bestaan nie.
Here, ons wêreld is in ’n warboel. Ons mense verlang na leiers vir wie U salf en aanstel om u wil bekend te maak, u planne oral uit te voer. Ons bid dat U verstandige leiers sal oprig en dat hulle U met ontsag sal dien. Ja, dat hulle sal erken U alleen beheer alle dinge.
Ons dank U, Here, vir die openbaring van die heerlikheid van u regering deur u Seun, wie U tot koning verhef het. Ons sien die nood in ons wêreld en hoe lagwekkend ons leiers se plannetjies in u oë is. Dankie dat U óns skuilplek is, dat U nie in die hemel lag as ons erken ons het U nodig nie. Ja, ons vertrou net op U vir elke dag.
Here, ons bid dat ons leiers en heersers – mense met mag in ons tyd – u Seun se glansryke heerlikheid sal sien en Hom met bewing sal toejuig. Mag ons leiers besef ware geluk setel nie in hul verspotte planne nie, maar daarin dat hulle by U skuil. Mag heersers en leiers daarna streef om u kinders te laat deel in U as enigste skuilplek.
Dan eggo ons die psalmis se oproep, Here: Konings, wees verstandig. Regters van die aarde, wees gewaarsku. Dien die Here met ontsag.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – SESDE WEEK NA EPIFANIE