Na aanleiding van Psalm 29 (lees 2020-vertaling)

Here, na dae van onstuitbare veldbrande in verskillende dele van die Kaap streek, reageer ek op talle oproepe van gelowiges vanuit die geteisterde gebiede om saam te bid vir die vernietigende mag van voortstuwende vlamme en die impak daarvan op eiendom en plantegroei.

Soos die psalmis van ouds aangegryp is deur stormweer wat hom en sy tydgenote oorweldig het, staan my generasie in dié dae voor die mag van vuur in die natuur, wat elke menslike poging tot beheersing oortref en onsinnig laat lyk. Wie beheer dié natuurverskynsels, Here?

Geleerdes vertel ons dié onweersgebed het sy oorsprong in die Kanaānitiese natuurgodsdiens, waar elke verskynsel in die natuur aan Baāl, hul afgod, toegeskryf is. Here, gelowige Jode het ook die mag van natuurkragte ervaar en probeer verstaan. Maar…, hulle het U daarin raakgesien.

Here, ek hoor die geloofsbelydenis van die bidder in ons psalm; hoe hy van u teenwoordigheid in die stormweer van destyds bewus geword het. Die bidder reageer op die aardskuddende klank van die donderweer en meesleurende geweld van die vloed. En…, hy hoor ú stem.

Wanneer die woedende vlamme die Kaapse fynbos verskroei en strukture soos was laat smelt, worstel ons met die vraag oor hoe u stem in die geknetter en geklap van die vlamme na ons toe kom. Here, die beelde van woestyn landskap ná die vuur, vul ons met vrees en bewing.

Wanneer helikopters, spanne brandslaners en die beste beskikbare brandweer toerusting skynbaar geen impak maak op die vernietigende geweld van die vuurspoor op die grond nie, dring die psalmis se wysheid tot ons deur. Dit is die Here wat bó die storm, vloed, vuur troon!

In die week ná Epifanie in die Christelike jaar, Here, is die wesenlike geloofsinsig waartoe U ons bring, juis ook deur die oormag van die vuur in ons omgewing, dat ons krag in U alleen gevestig is. U troon as koning vir ewig. U is bo die
magtige vlamme. U stem is kragtig, U seën ons met vrede.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

RCL JAAR A – EERSTE WEEK NA EPIFANIE