Miskien wonder jy wat dit beteken om tot bekering te kom, jou hart vir Jesus te gee, weergebore te word, jou naam in die boek van die lewe te kry?

Dit is so eenvoudig soos om met jou mond te bely en met jou hart te glo.

Daar staan in Romeine 10:9-10:

‘As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.’ Romeine 10:9-10

Die Boodskap stel dit so:

‘… Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om met jou woorde te erken Jesus is die Here en om met alles in jou te glo God het Hom uit die dood laat opstaan. As jy dit glo, spreek God jou vry van al jou sondes. En as jy dit met jou mond bely, word jy verlos.’ Romeine 10:9-10

Waarom het jy nodig om vrygespreek te word van jou sondes?

Want daar is ’n prys vir sonde wat betaal moet word, en dit is die dood.

‘Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.’ Romeine 6:23

Dit is menslik onmoontlik om sonder sonde te leef, en daarom behoort ons almal daardie prys te betaal. Dit is ons sondeskuld.

Maar, omdat God die wêreld liefhet, het Hy mens geword sodat Hy daardie skuld namens ons kan betaal deur Homself as offer te gee.

‘Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.’ Jesaja 53:4-5

Jy kan die ewige lewe in Christus hê. Hy skenk dit aan jou, al wat jy moet doen is om dit te aanvaar.

Net daar waar jy is, kan jy saam met my bid:

Liewe Vader, ek erken dat ek ‘n sondaar is.

Ek glo dat U Seun, Jesus Christus,

aan die kruis gesterf het om namens my die prys vir my sonde te betaal.

Ek glo ook dat Hy uit die dood uit opgestaan het.

Deur sy kruisdood en opstanding is ek nou vrygespreek van my sondeskuld, en staan my naam in die boek van die lewe opgeskryf.

Jesus, ek kies om U te volg, en my hart vir U te gee.

Dankie dat U my gered het!

Amen.

As jy in jou hart weet dat jy nog nie daardie besluit gemaak het om Jesus Christus as jou Verlosser aan te neem nie, doen dit vandag. Sommer nou. Net daar waar jy sit en lees.

Dit is so eenvoudig soos om met jou mond te bely en met jou hart te glo.

Die res sal die Heilige Gees doen.

Geskryf deur Madeleine Venter