MATTEUS 14:13-21 (Lees die 2020-vertaling)

Revised Common Lectionary neem ons na die vierde hoof deel (13:54 tot 19:1 of 2) van Matteus se vertelling oor Jesus se bediening. In dié vierde deel begin Jesus geleidelik onttrek van die openbare interaksie wat sy bediening gedurende die eerste drie dele van die verhaal gekenmerk het. Nou wend Jesus Hom doelbewus tot sy kleiner groep dissipels om hulle tot ’n basiese geloofsgemeenskap te vorm. Die toneel van ons Skrifdeel is Jesus se eerste vermeerdering van brood en vind plaas teen die agtergrond van Johannes die Doper se dood aan die hand van koning Herodes. Dié nuus oor sy neef se dood het Jesus ontstel en die besef versterk dat die weerstand teen sy bediening toeneem. Hy is nie alleen in sy tuisdorp Nasaret ontken nie, maar Herodes het ook begin ongemaklike vrae vra oor Jesus en sy bediening.

Die ruimte waar Jesus se eerste vermeerdering van brood plaasvind, roep assosiasies uit die Ou-Testament op en herinner aan die Eksodus geslag wat in die woestyn deur God versorg is. Dit herinner ook aan Jesus se versoeking deur Satan in die woestyn, ná sy doop deur Johannes in die Jordaanrivier. Die woestyn as plek van afsondering en gebrek aan kos en water, herinner egter ook aan God se wonderbaarlike voorsiening van kwartels en manna aan sy verbondsvolk, asook hoe God water uit ’n rots laat kom het en aan die swerwende woestyngeslag voorsien het. Al hierdie agtergrondsinligting speel mee in die tekening van die toneel in ons Skrifdeel en skep verwagting oor wat God kan en gaan doen.

Terwyl Jesus om persoonlik emosionele redes besluit het om van die skare te onttrek sodat Hy alleen kan wees en geestelik te herlaai, spoor die skare Hom weer op en stroom na Hom vanuit die dorpe. Dit was uiteindelik ’n baie groot skare mense, aangesien die mans wat deur Jesus gevoed is, alleen ongeveer vyfduisend was, vroue en kindertjies uitgesluit. Die aangrypende is dat Jesus, ongeag sy persoonlike emosionele behoeftes, die skare gesien en hulle innig jammer gekry het. Jesus merk die mense se nood op en reageer daarop. Hy maak die siekes gesond (vers 14). Dit is wie Jesus is en dit is wat Hy doen. Mense is vir Hom belangrik en deernisvolle sorg is die taal van sy hart.

Ons hoor ook iets van hierdie deernis en omgee by die dissipels as hulle sien die aand kom nader en weet die mense het nie kos om te eet nie. Hulle wil ook iets doen vir die mense en deel hulle voorstel met Jesus: “Stuur die skare weg na die dorpies om vir hulleself kos te gaan koop” (vers15). Jesus erken die omgee in hulle harte, maar maak ’n teen voorstel. Jesus motiveer sy dissipels om self vir die skare iets te gee om te eet, sodat die skare by Hom kan bly. Natuurlik het die dissipels nie naastenby genoeg kos voorraad by hulle om die geweldige skare te kan voed nie, maar hulle het tog iets, vyf brode en twee visse (vers 17). As lesers weet ons nou wat gebeur het, maar hoe moes die dissipels gevoel het toe Jesus die opdrag gee: “Bring dit hier vir My” (vers 18).

Wat hierna gebeur kan ons maar net in verwondering ontvang en oordink. Die dissipels kry opdrag om hul rol as gasheer namens Jesus te vervul. Hulle moet die mense op die gras laat sit en voorberei om te eet, terwyl hulle geweet het daar is net vyf brode en twee visse. Hulle het gesien hoe Jesus na die hemel opkyk, die seëngebed uitspreek en die kos begin breek, terwyl hulle weet hoeveel voorraad daar werklik was. En toe beleef hulle dat Jesus die stukkies brood en vis aan hulle gee sodat hulle dit weer vir die skare mense moet uitdeel, totdat almal genoeg ontvang het om te eet. Ja, daar het selfs twaalf mandjies brokstukke oorgebly. God het weer sy volk in die woestyn gevoed en die leerling dissipels het beleef dat hulle méér uitgedeel het as wat hulle in Jesus se hand geplaas het. Ons kan net die verhaal oorvertel.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Tiende week in Koninkrykstyd – Jaar A