‘Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.’ Efesiërs 6:16
Hoe beskerm geloof jou, en waarom het Paulus dit as die skild van ons geestelike wapenrusting genoem?
Wat is geloof?
‘Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.’ Hebreërs 11:1
Dit is om op iets te vertrou waarvan jy kennis dra.
Soos die ou voorbeeld van die stoel so mooi illustreer: Jy dra kennis van die feit dat jy op ’n stoel kan sit, maar dit vra vertroue in hierdie kennis om dit wel te doen.
Net so, dra baie mense kennis van Jesus, en stem hulle saam met Bybelse stellings oor Hom, maar vir iemand om werklik in Hom te glo, moet hulle daardie kennis vertrou ook. Jy kan die evangelie ken en weet dat Hy die sondeskuld namens jou betaal het, maar vertrou jy dit werklik – gló jy dit werklik?
Met ander woorde, geloof is wat van jou ’n weergebore Christen maak.
Paulus verduidelik dit só aan die Galasiërs:
‘En tog weet ons dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.’ Galasiërs 2:16
Jou geloof is dus ’n skild teen die vyand se brandpyle, omdat dit ál is wat nodig is om gered te word.
Jy kan nie uit jou eie daardie sondeskuld betaal nie.
Jou geloof is dus ’n teken van God se genade, soos wat Paulus skryf in Efesiërs 2:8:
‘Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.’
Wanneer die vyand dan daardie aantygings teen jou afvuur wat jou wil laat glo dat jy nie goed genoeg is nie, en dat die Here nie regtig vir jou omgee nie, kan jy maar net jou skild van geloof lig en hom daaraan herinner dat jy uit genade gered is.
Hou hierdie week jou skild omhoog, en neem elke tree vorentoe in geloof.
Geskryf deur Madeleine Venter