LUKAS 18:1-8 (2020-vertaling)

Ons mediteer oor Jesus se gelykenis aangaande interaksie tussen ’n sekere regter in ’n bepaalde stad en ’n weduwee in daardie stad. Die verse van ons Skrifdeel val binne die laaste hoofdeel (17:11-19:27) van Lukas se vertelling oor Jesus se reis na Jerusalem. Jesus is in gesprek met Fariseërs wat Hom gevra het wanneer die koninkryk van God kom. Hy verklaar dat die koninkryk van God nie met duidelik waarneembare tekens kom nie (17:20). Jesus vertel van die regter en weduwee in sy gesprek met Fariseërs. Sy invalshoek is gebed wat gekenmerk word deur volgehoue gemeenskap met God sonder om moed te verloor, sou die uitkoms vertraag word (vgl. Luk 21:36 vir soortgelyke verband tussen gebed en eindtyd). Die gebedsfokus in ons Skrifdeel is gerig aan die dissipels, herinner aan Jesus se gelykenis in Lukas 11:5-13 en hang saam met sy gelykenis oor die tollenaar en Fariseër in vers 9-14.

Lukas se gelykenis speel af in die konteks van ’n hofgeding waarin ’n weduwee by ’n sekere regter pleit om aan haar reg te laat geskied. Sy dring aan op regverdiging deur die regter. Soos in die gelykenis van die oneerlike bestuurder (Luk 16:1-9) gebruik Lukas weer ’n onwaarskynlike karakter as voorbeeld om ’n les oor te dra aangaande God. Lukas gebruik ’n tipe argument waarin hy die meerdere met die mindere vergelyk om ’n punt te maak. Lukas gebruik ook humoristiese beeldspraak om die weduwee se volgehoue aandrang by die regter te skets. Met ’n beeld beskryf die regter waarom hy die weduwee gelyk gee; anders gee sy my ’n swart oog. Die weduwee het nie moedeloos geraak nie. Sy het aanhou pleit by die regter. Hy het toegegee, bloot om haar van sy rug af te kry; sy het hom uitgeput.

Die vergelyking van die regter in die gelykenis met God, bestaan daarin dat dié regter geen ontsag vir God of vir mense gehad het nie. Hy het net vir homself geleef en was vir homself die enigste wet vir beoordeling van wie ookal voor hom gekom het. In die gelykenis betoon dié hartelose en selfgerigte regter egter barmhartigheid aan die pleitende weduwee. Al is die motivering vir sy gedrag dat hy haar net uit sy gesigsveld wou kry, verander hy nietemin van standpunt op grond van die weduwee se volharding. Jesus se punt is dan dat indien ’n hartelose regter tog luister na die pleit van ’n sosiale randfiguur soos ’n weduwee, hoeveel te meer sal die liefdevolle en barmhartige God nie ag slaan op die gebede van sy uitverkorenes wat dag en nag (volgehoue) na Hom roep nie (vers 7). Op dié punt bemoedig en verseker Jesus sy dissipels oor wie God is en dat hulle toegang tot Hom het.

Ons Skrifdeel het ’n dubbele fokus. Enersyds onderrig Jesus sy dissipels in sy gesprek met Fariseërs oor hul vraag na wanneer die koninkryk van God kom. Andersyds open Jesus perspektiewe op wat die toekoms inhou, deur die lig te laat val op sy gehoor se eskatologiese verwagtinge (eindtyd; parousie). Die dissipels word geroep om in hierdie wêreld te leef. Hulle bestaan as geroepe gestuurdes van God in dié wêreld, vorm hulle menswees, terwyl hulle juis deur geloof en hoop in God se toekoms ingetrek word. Soos wat die gelykenis aandui dat die weduwee uiteindelik regverdig verklaar word, verseker Jesus sy volgelinge dat hulle by die koms van die Seun van die Mens regverdig verklaar sal word.

Die punt van Jesus se onderrig oor volhardende gebed sonder om moed te verloor, is dat die koms van die Seun van die Mens, die finale aanbreek van God se koninkryk (heerskappy), nie met waarneembare tekens voorspel kan word nie. Ons regverdiging voor God by die koms van God se koninkryk hang volledig van God af. Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied (vers 8).

Die vraag is of ons wat Jesus op weg na Jerusalem en deur sy opstanding heen volg, die geloof behou tot wanneer die Seun van die Mens kom? Net geloof in die Seun van die Mens regverdig ons voor God.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Negentiende Week van Koninkrykstyd