Na aanleiding van Psalm 66:8-20 (lees 2020-vertaling)
Here, die psalmis se oproep aan die volke om God te prys en klanke van ’n loflied te laat opklink, bevat ook frases oor U wat lewe gee en ons louter/toets. Dit laat my wonder oor die veelkantigheid van my/ons geloof
in U. Hoe verstaan ek/ons dié perspektiewe op U?
En dan is daar ’n derde frase wat die klem laat val op my as mens, Here. Die psalmis noem die ewige neiging van gelowiges om aan U beloftes te maak en offers te belowe, om U te vergoed wanneer ons in benoudheid verkeer, u hulp verlang. Hoe verklaar dit my geloof?
Here, ek verstaan die diep begeerte in my hart wat soms opwel om ander wat vir God ontsag het, aan te spoor en op te roep om te luister na my getuienisse oor wat U vir my gedoen het en steeds daagliks bly doen. Dit is vir my die egte geloofshouding: U aan te roep en U lof besing!
U, ons God, moet geprys word, Here. Daar is oorvloedige motivering daarvoor. Ek kan vertel hoe U in my eie lewe geluister het wanneer ek bid. U het ag geslaan as ek my na U wend met versugtinge om verlossing uit situasies wat my oorweldig het. U troue liefde het my omvou.
Oor dié besondere interaksie tussen U trou, Here, en die noodwendige lofprysing van gewlowiges se reaksie op u teenwoordigheid in ons lewe, wil ek lofliedere sing. Ek wil almal wat ontsag vir U het aanspoor om te erken U alleen verdien ons lof. Mag daar geen onreg in my hart wees nie.
Maar, Here, terwyl daar geen onsekerheid by my bestaan dat U aan ons lewe gee nie, wil ek graag ook verstaan hoe loutering en toetsing deel vorm van u troue liefde. Hoe pas dit in u handeling om my/ons te bewaar, te versorg, te red en deur die lewe te dra? Is u toetsing ook my vorming?
Dan is daar ook die woorde van die psalmis wat suggereer U laat moeilike dinge oor ons kom: in vangnette laat beland, laste op ons skouers lê, ons deur vuur en water laat gaan. Hoe werk dit. Here?
En terwyl ek met dié vrae na U toe kom en wag dat U my leer, hoor ek die bidder se “maar” uit sy benouenis. Hy getuig dat U hom na oorvloed uitgelei het. Daarvan kan ek ook getuig, al verstaan ek nie als nie. Ek sal U Prys.
Amen.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – SESDE WEEK VAN PASE