“Faith is the art of holding on to things in spite of  your changing moods and circumstances.” CS Lewis

Om geloof te leef is beslis nie die maklikste ding in hierdie lewe nie. Praat is wel maklik, maar leef is iets anders.

Soms voel dit vir my of ek heeldag besig is om agter geloof aan te hardloop, sonder om dit in te haal of selfs ooit te vang. Sodra ek geloof in my knapsak sit, stap iemand nader met ‘n nuwer en mooier knapsak, bolrond met ‘n ander interpertasie van geloof. Dadelik dink ek dan dat ek miskien eerder die inhoud van my knapsak weer moet bekyk, miskien dit eerder nie vertrou nie en mal moet wees om dit voortehou as waardevol.

Om geloof te leef, is nie altyd so maklik as om geloof te praat nie.

Die lewe het die manier om so saggies, sonder dat ons dit verwag, ‘n brander te laat inrol wat die lig van die son vir ‘n oomblik laat verdwyn. Meestal is dit ons omstandighede of bloot net ons gemoed. Dan kyk ek maar weer na daai knapsak en wonder of ek nie miskien iewers iets verkeerd verstaan nie.

So verhuis ons as gesin vroeër vanjaar vanaf Swellendam (Wes-Kaap) na Vryburg (Noord-Wes), na 14 fantastiese jare in ‘n dorpie waarvan meeste mense droom om in te gaan bly. Ons het daar aangekom as pasgetroudes en elke kind het sy eerste treë daar gegee, sy eerste woord daar gesê en haar eerste seerkry daar gevoel. Besighede begin, besighede geeindig. Mense leer ken, mense liefgekry. Ons was gesond daar en ons was siek daar. Ons het hard gewerk en ook hard gebid. Daar is baie gelag en ook harde klippe gekou. Maar meeste van alles was dit bekend daar. Dit was veilig en het so lekker gedra soos daai hemp met die gatjies wat jou vrou elke seisoen wil uitgooi maar wat jou gunsteling bly.

Vir ons God is die gebrokenheid van die wêreld belangriker as my gemaklike geografie. Ons het vir jare geweet verandering kom en met suiwer intensies dit gereeld voor die Here se voete neergelê. Maar ek dink nie ons het mooi besef hoeveel geloof dit regtig gaan verg nie.

Vryburg was die oop deur na 6 jaar se gebed en toe ons die dorp uitry het ek geweet dit is hier waar God ons gaan neersit. Ek het dít geweet, maar ook dat die uitdrukking op my vrou se gesig vertel hoe hard sy hoop dit nie so is nie, en hoe hard sy wens haar Here is genadig.

Julle weet almal hoe daar gepraat word van trek as een van die traumatieste goed wat met mens kan gebeur. Ek is ‘n bankbestuurder kind – ek het groot geword met trek en weet dit is baie mense se lewe vandag. Ek het net nie die omvang van trek met skoolgaande kinders na so verskillende plek lekker verstaan nie. Nou kan ek al ‘n boek skryf daaroor en ons is maar in maand 7 (waarvan die hele gesin nog net 4 maande hier is).

Dit is anders.

Skool is anders vir die kinders. Die juffrouens vra ander vrae, die sport word anders gespeel. Die skoolklere het ander reëls en die maatjies het ander dinge. Alhoewel kinders aanpasbaar is sien ek tog hul sterk behoefte om aanvaar te word en hoor ek hul soeke na iets bekend. Pappa is weer voltyds ‘n dominee en mamma moet nou kontrakte bestuur vanuit die studeerkamer.

Die weer is anders.

Die paaie is anders.

Dis ander dokters,  ander haarkappers en ander oogartse.

Die winkels is anders.

Die mense is anders.

En die kerk is anders.

Wanneer mens met so baie andersheid gekonfronteer word gebeur ‘n paar dinge natuurlik. Jy besef die waarheid daarvan dat mense (en veral Afrikaners) nie van verandering hou nie. Dis ongemaklik.  Jy moet baie meer en baie gereeld onthou waarvoor jy nou eintlik staan. Wie is jy en wat bring jy na die tafel toe. En wanneer hierdie goed vir die duisendste maal deur jou kop gaan dan wonder jy elke keer – hoekom? Hoekom hier? Hoekom nou? Hoekom met al die kompleksiteit? En hoekom jy?

Dit kan nie anders as om ook ‘n geloofs-vraag te huisves nie.

Hoe hou ek vas aan geloof Here? Hoe leef ek geloof hier? Het ek U reg gehoor?

Terwyl ek vir ‘n antwoord wag, is ons as gesin, binne die kwessie van 5 weke, drie keer in padongelukke. Nie sommer algemene goed nie, ‘n bietjie bizarre goed. ‘n Myn-vragmotor op ‘n sneeu pas sonder bestuurder en sonder remme. ‘n Sportsmotor met ‘n onervare bestuurder, ‘n selfoon en remme. En gister ‘n pou, in die bosveld, langs die pad, ons windskerm en natuurlik remme.

Rêrig?

Elkeen van ons het ‘n bizarre storie of drie, elkeen van ons is al getoets, het al gesê ek is nou oor dit, moes al worstel met te veel uitdagings in ‘n te kort tyd met te veel implikasies. Elkeen het al ‘n ‘regtig’ gehad – het dit regtig nou net gebeur?

Hoekom Here?

Is U daar Here?

Glo ek reg Here?

Ek onthou die oggend so goed, ek ruik steeds die koffie, proe die wel-verdiende appeltert na 221km op my fiets. Dan lui my foon en die smaak in my mond verbitter. “Herhaal asb wat jy gesê het?”

“Wynand, Pieter is dood! ‘n Vragmotor het hom raakgery en hy is opslag dood”

“Nee man, ek het hom nou net gesien. Hy het nou net saam met ons gery!”

Nou net vir my vertel van sy opgewondenheid oor hul eersteling wat oppad is. ‘n Seuntjie.

‘n Seuntjie wat hy nooit op hierdie aarde gaan sien nie. Hoe kan dit wees Here? My geloof voel vertrap en ek sukkel met woorde.

‘n Paar maande later druk ek my hand in die water van die doopvond. Die koeligheid daarvan ruk my terug na die hede. “Pieter, Oom Wynand doop jou in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees … “

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Heb 11:1

Ons Ford bus lyk asof dit uit ‘n slagveld gekom het, of miskien ‘n apocalypse rolprent. Ek moet maar lag, want gelukkig red ons humor ons gereeld. Wat op dees aarde gaan hier aan en wat maak ek met hierdie bus – ry gaan ek hom nie meer nie. Ek twyfel of almal hierdie stories eers gaan glo.

Ek voel op daai oomblik asof Iemand my bemoedigend op die blad slaan en maar moet saam glimlag oor al die interessante draaie wat ons lewe loop. En dan sê, kom ons gaan braai vleis, om vir dit te staar gaan nie die stampe wegvat nie. En hoor daar…die kinders lag en jou vrou neurie in die kombuis. Miskien is dit al wat regtig saak maak.

Ja Here, die kinders sal aanpas al word hul gebytel in die proses. Die stampe kan reggemaak word en die windskerm kan weer blink. Ja Here, ek hou nie van strukture nie, veral nie die strukture van die kerk nie, maar U wil my daar gebruik en dan is dit waar ek sal wees. Die bande kan gepomp word en die nommerplaat weer geplak. Ja Here, ek moet soms die seer in my uitstort maar ek kan nie verby U Seun aan die kruis kyk nie. Die batterye kan laai en die ligte sal weer skyn.

Geloof is immers ‘n geskenk van die Vader, met ‘n groot stuk genade daarby. ‘n Geskenk wat ons moet deel met ander. Soos Lewis, wil ek beaam dat ten spyte van omstandighede wat verander en dinge wat ongemaklik anders is. Ten spyte van my gemoed wat rond val soos ‘n bootjie op die see. Ten spyte van dit alles, kan ek net dankbaar bieg dat ek nie aldag weet hoe ek vasgehou het nie, maar ek weet dat deur vas te hou … het geloof vir ‘n oomblik sin begin maak!

Om te besef dat ek nie aldag weet nie, dat ek twyfel, dat ek ontsteld word oor dinge wat gebeur. Dit juis dit, maak geloof binne my wakker en begin ek verstaan dat Hoop my nooit los nie, al kan ek dit nie sien nie. Die oomblik as ek dit besef, dan begin ek om geloof te leef.

Wynand jy ís gedoop in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees…

 

Geskryf deur Wynand Olivier