Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Ons het meestal ’n negatiewe houding teenoor werk. Werk is moeite. Dit maak jou fisies en geestelik moeg.

Tog is dit juis werk wat sin aan die lewe gee. Solank jy werk, doen jy iets van waarde vir jouself en die samelewing. Jy dra by tot groei en vooruitgang. Jy het ’n doel om na te streef – iets wat nagelaat kan word vir volgende geslagte.

Kahlil Gibran het die volgende wysheid oor werk neergepen: “Wanneer jy werk is jy ’n fluit deur wie se hart die fluistering van die ure in musiek verander.” (Uit: Die Profeet)

Hierdie woorde ego Prediker 3:22: ‘Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk; dit is wat hom toekom. Wie kan hom laat sien wat ná hom sal gebeur?’

Waarop dit neerkom, is dat om te werk nou maar eenmaal deel van die lewe is. Jy kan dit netsowel geniet.

Daar is ook die basiese beginsel van saai en oes. Wat jy insit, is wat jy uitkry. ‘Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek.’ Spreuke 14:23.

Ongelukkig sukkel mense soms om ’n balans te vind.

Daar is dié wat net aanhou saai en nooit oes nie. Hulle raak so vasgevang in die gejaag na rykdom en status, dat hulle hulle byna doodwerk.  In Prediker 2:24, en 5:18 lees ons: ‘Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ‘n gawe uit die hand van God is … God gee aan ‘n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is ‘n gawe van God.’

Dit is duidelik uit beide hierdie Skrifgedeeltes dat jy ook moet tyd maak daarvoor om die vrug van jou arbeid te geniet. Die Here gun jou dit.

Aan die ander hand, is daar diegene wat so min as moontlik wil saai, maar steeds ’n groot oes verwag. Die Prediker het die volgende daaroor te sê gehad: ‘Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek.’ Prediker 10:18.

Daar is geen kortpaaie nie. Luiheid loop uit op ellende. Al is daardie ellende dan ook net dat jy totaal en al nutteloos voel.

Kahlil Gibran het ook gesê: “Werk is liefde sigbaar gemaak.” Liefde moenie net by ’n gepraat bly nie, maar moet in ons dade bewys word (1 Joh. 3:18). Deur te werk bewys jy jou liefde teenoor God, jou medemens en die lewe wat jy ontvang het.

Probeer hierdie week om jou persepsie oor werk te verander. Doen wat jy moet doen met vreugde en uit dankbaarheid. Dan sal jy ook die vrug van jou arbeid met oorgawe kan geniet.

 

Geskryf deur Madeleine Venter