Na aanleiding van Psalm 32 (lees 2020-vertaling)
Here, die Lydenstyd in die Christelike Jaar is ten diepste ’n tyd vir selfondersoek, refleksie en wegdraai van verkeerde weë; ’n tyd vir bekering tot U, terwyl U u kinders bewus maak van sonde en opstand teen U, in ons lewens.
Wanneer ons in Lydenstyd die oë en harte vestig op Jesus se lydensweg na Jerusalem toe om aan die vervloekte kruishout te sterf, Here, ruk die wete van diep gesetelde sondes ons uit ’n selfvoldane lewensgang. Dan moet ek/ons erken: dit is vir my/ vir ons, dat Jesus dié lyding verduur het!
Here, ’n geleentheid om wéér oor Jesus se lydensweg te reflekteer, asook oor die rede waarom dit nodig was, dwing tot ernstige nadenke oor die aard van sonde, én die effek daarvan in ons lewe. Die psalm lei ons tot selfondersoek en terugkeer na U toe.
Die erkenning van sonde in my lewe, en die begeerte in my hart om dit voor U te bring, Here, laat my besef wat sonde aan my persoonlik en in my gemeenskap met U, doen. Die teenwoordigheid van sonde in my maak my fisies en geestelik siek; ek kreun heeldag, my lewenskrag kwyn weg, my gebeente word bros.
Here, die wonder van geloofsgemeenskap is die bevrydende mededelinge van u kinders oor wat hulle beleef het in húlle toekeer na U toe. Die gelowige bidder getuig oor die weg wat U vir hom geopen het. Hy het sy sonde teenoor U erken, sy oortredings bely, en U het sy sondeskuld vergewe. Daarom kan hy wéér bid.
Die belydenis van mede-gelowiges oor u trou, Here, spoor mý ook aan om in dié Lydenstyd tot U te bid, terwyl U aan my/ons die geleentheid bied vir selfondersoek en skulderkenning. Ek is bemoedig deur die getuienis van die psalmis: Wie op die Here vertrou – troue liefde omring hom/haar. Daaraan hou ek vas!
Here, hoe heerlik is die nuwe horisonne wat U voor u getroue volgelinge oopmaak, wanneer ’n sondaar sy/haar sonde erken en bely. U maak u terugkerende kinders gelukkig; hulle juig en jubel. Ja, die werklik gelukkige mens beleef dat U sy/haar oortredings vergewe, hul sondeskuld nie toereken nie.
Hoor die jublekrete van bevryding wat my omring, Here.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – EERSTE WEEK VAN LYDENSTYD