Een van my groot drome was nog altyd om ’n Bosloerie (Apaloderma narina) in lewende lywe in die bos te sien. ’n Paar weke gelede het ons klomp manne op ons jaarlikse toer gegaan om bietjie golf in die Laeveld te speel — ’n belewenis soos min. Skukuza, Witrivier, Nelspruit, Sabie… en oral is die groot voëlkykers in die groep besig om vir ons dinge uit te wys: van visarende en reuse reiers tot blou visvangers. Niemand sal dit hardop erken nie, maar hierdie vyf dae se wegbreek is meer as net golf.
Terwyl die vuur se vlamme oor die houtstompe dans en die vuurvliegie skielik besef die vlam is nie sy vriend nie, sit twaalf manne in doodse stilte. Die pak sout-Lays doen die rondte, en sy neef met die kaassmaak volg. Skielik bulder dit hier langs my — ek skrik so groot dat ek my glas Chardonnay op my skoot uitgooi.
“Dis ’n Bosloerie!” bulder dit weer. “Hoor, hoor, daar roep hy!”
Nou weet ons: hy is hier. En ons besluit vasberade — ons gaan hom sien.
Later, terwyl ek my aandkoffie rustig slurp, hoor ek hom weer. Eers hoor ek die water wat oor die klippe rol. Ek raak bewus van God se grootheid en Sy rustigheid. Hy praat — in die water, in die flikker van die vuurvliegie se stert. Daar roep die Bosloerie weer, en ek voel iets agter my. Dis net my kamermaat: “Wynies, mag ek saam met jou sit?”
“Ja, asseblief.”
Hy begin saggies neurie oor die padda wat ’n vuurvlieg se lig geleen het, omdat hy nie ’n opsitkers kon kry nie. Die ooruil roep, sy maat antwoord. En weer — die Loerie.
Dan stilte.
“Wynies, is God nie amazing nie?”
Die volgende oggend speel ons in die reën. Dit was nie snaaks nie, maar later sit ons weer by die vuur. Hierdie keer gaan die gesprek oor die dikgevrete bruin hiëna wat oor die pad gestap het — vars bloed op haar wang. Die stilte oppad terug kamp toe was oorverdowend. Toe vibreer my foon. ’n Boodskap van my vrou: haar sussie… dit is kanker.
Mumford & Sons bars in my ore:
“Your spirit moves in my soul and I find peace in the shadow of Your wings… You are all I want, all I need.”
Here, hoekom moet dit gebeur met familie? Hoekom is die lewe so stukkend, so onregverdig?
Die vrae borrel in my op. Die pad terug voel lank en seer, maar die broederskap in die kar hang dik soos mis oor Tafelberg. Daardie aand maak ons weer vuur, en tussen die gesels hoor ek: “Daars hy weer! Dis die Bosloerie!”
Fone word uitgehaal, en iemand speel die Loerie se roep terug, dalk kom hy nader! Ek sit later op die stoep, doenig met die Here — kwaad doenig. “Here, wat maak ek met hierdie een? Wys my asseblief. Waar is U?”
Dan hoor ek dit weer. Nie die opname nie — die regte roep. Ek kyk op, en daar sit hy — die Bosloerie, reg voor my op die tak. “Manne, is hierdie nie die Loerie nie?”
Gelag. Spot. “Die dominee lieg weer!”
Maar vir ’n paar oomblikke staar ek en die Bosloerie vir mekaar. Dis asof hy ’n vraag wil vra. Die lug is swaar, en dis die mooiste skepsel wat ek nog gesien het — rustig, singend.
Ek voel ’n hand op my skouer. Dis Werries. Hy fluister: “Ek wag al twintig jaar vir hierdie oomblik.”
“God is amazing,” hoor ek iemand sê. En dit is so.
Die volgende oggend sit ek weer met my koffie. Die vuurvlieg bied sy lig aan vir die padda, maar my gemoed is anders. Die Skepper-God het oor die Bosloerie se skouer vir my geloer — met ’n traan wat op die Loerie se vlerk drup… of is dit bloed?
“My kind,” hoor ek in my binneste, “ek is jammer oor die lewe se pyn en seer. Maar sien My raak — Ek is oral rondom jou. Ek gee die Bosloerie opdrag om vir jou te sing. Pyn sal nie weggaan nie, maar Ek sal vir jou vrede gee — soos die kleurvolle Bosloerie se kleed, wat Ek self vir hom aangetrek het. Kom soek My, roep My, en Ek sal antwoord met ’n melodie wat net jy en Ek verstaan.”
Die volgende middag sien ek hom weer. Hy loer deur die takke, langer as gister — en ek verbeel my ek sien Hóm glimlag.
“Sus, dit gaan OK wees. Ek weet nog nie hoe nie, maar as Hý vir my kon loer oor die Bosloerie se skouer, loer Hy reeds vir jou.
Luister hoe hulle sing — en hoor hoe die stilte van vrees soos Tafelberg se mis voor die son verdwyn.”
— Wynand Olivier