LUKAS 15:1-10 (2020-vertaling)
Op Jesus se reis na Jerusalem (Luk 9:51-19:27), het daar dikwels ook tollenaars en sondaars nader gekom om na Hom te luister. Ons Skrifdeel vertel van so ’n gebeurtenis. Hoekom sou tollenaars, wat deur die Jode verag is omdat hulle die Romeinse belastings onder hulle volksgenote ingesamel het, belangstel in Jesus se optrede? Wat sou sondaars, wat deur die Joodse gemeenskap as minderwaardig beskou is oor die werk wat hulle gedoen het, in Jesus gesien het wat hulle na Hom wou laat luister? In vers 2 is dit duidelik dat die Fariseërs en skrifkenners nie ingenome was met dié mense se toenadering tot Jesus nie. Dit blyk ook uit hul reaksie dat Jesus heel gemaklik was met die geselskap van die sogenaamde sosiale randfigure: “Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle”.
Ons het al gesien die tema van eet en maaltye is een van Lukas se kern temas, met diep teologiese betekenis. Om saam te eet was ’n toetssteen vir insluiting in die gemeenskap van iemand wat vreemd of van ’n ander kultuur was (Hand 11:1-3). Gemeenskapsmaaltye was ’n identiteitsmerker. En Jesus het dit gewaag om saam met sosiale randfigure te eet. Jesus reageer op die veroordeling van die Joodse leiers oor sy identifisering met tollenaars en sondaars, deur drie gelykenisse (waarvan ons net twee oorweeg) te vertel. Daarin speel die tema van saam vier en eet wéér ’n rol. Wat leer ons as Jesus- volgelinge uit dié interaksie van Jesus met die mense oor die wese van dissipelskap?
Die eerste gelykenis handel oor die praktyk van skaap boedery en die optrede van ’n skaapwagter wat aan die einde van ’n dag sy skape na veiligheid bring, en ontdek een van hulle is nie in die trop nie. Dit is ’n algemene verskynsel in dié bedryf. Praat Jesus hier doelbewus oor ’n skaapwagter se werk? Dit was immers een van die beroepe wat iemand in die kategorie “sondaar” geplaas het; onwelkom en agterlik. Die skaapwagter in die gelykenis laat die trop onder toesig en gaan soek die een wat vermis word. Hy doen groot moeite en “gaan agter die verlore een aan totdat hy hom kry” (vers 4). Dié handeling sê alles oor die karakter van die skaapwagter, én die waarde van die skaap vir die wagter. En, wanneer die skaap wat uit die trop losgeraak het opgespoor word, roep die skaapwagter die gemeenskap op om saam fees te vier oor een skaap wat weer in die trop opgeneem kan word.
Die tweede gelykenis handel ook oor ’n alledaagse aktiwiteit, binne die konteks van ’n huishouding waar ’n vrou besig is. Een van haar muntstukke waarmee sy die huishouding moet bedryf, raak soek. Sy moet alles in die stryd werp om die geldstuk in die donker huisie sonder vensters op te spoor. Ook in haar geval is die moeitevolle soektog suksesvol en deel sy haar blydskap met die groter gemeenskap van vriendinne en bure. Soos die skaapwagter, roep sy die gemeenskap op: “Wees saam met my bly, omdat ek die dragma (skaap) wat ek verloor het, weer gekry het” (vers 9). Die temas van wegraak, afskei, terugkry en feesvierende blydskap, staan in beide gelykenisse sentraal. Jesus pas dié gelykenisse toe op God as soeker en versamelaar. God is die skaapwagter en die huisvrou. Hy soek sondaars (elke sondaar) wat van Hom losgeraak en uit die geloofsgemeenskap geval het.
Blydskap, vreugde en feesviering is kenmerke van die gemeenskap van Jesus volgelinge. In Jesus se gelykenisse beklemtoon Hy hoe die gebed dat God se wil op aarde mag geskied net soos in die hemel, hier as voorbeeld gestel word vir die geloofsgemeenskap wat Jesus dien: “So sê Ek vir julle, is daar blydskap onder God se engele oor een sondaar wat hom bekeer” (vers 10). Jesus praat ook van regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie, maar dat daar in die hemel blydskap is oor die een sondaar wat hom bekeer. Terwyl die Fariseërs en skrifkenners die tollenaars en sondaars kritiseer, juig die hemel en die engele. Watter soort dissipels is ek en jy? Kan ons inval by die hemelse feesviering, of kies ons die uitsluiting van hulle met wie ons dalk ongemaklik mag voel?
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Veertiende Week van Koninkrykstyd – Jaar C: Vrydag 19 September 2025