‘Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?’ Matteus 7:1-3
Ek dink hierdie Skrifgedeelte word baie keer verkeerd gebruik. Jesus het nie hiermee bedoel dat ons maar net alles moet aanvaar terwille van vrede nie. Ons word tog aangespoor om die regte vriende te kies, vals profete uit te ken, en nie met ongelowiges saam te span nie. (2 Kor. 6:14; 1 Kor. 15:33; Spr. 13:20; Mat. 7:15)
Wat Jesus ons in hierdie verse teen waarsku, is om nie te oordeel uit die staanspoor van geestelik-hoogmoedige selfregverdiging nie.
Dit is wanneer jy oordeel oor mense wat anders aanbid as jy, neerkyk op diegene wat na jou mening nie gekwalifiseerd is nie, en mense in kategorieë plaas volgens wat hulle aantrek, waar hulle woon en hoeveel tatoeëermerke hulle het.
Ons doen dit alles sonder om hulle agtergrond en kultuur in ag te neem, of daaraan te dink dat almal nie op dieselfde plek in hulle geestelike reis is nie.
‘Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.’ 1 Korintiërs 4:5
Nie een van ons is in ’n posisie om heeltemal regverdig te kan oordeel nie, want nie een van ons ken die volle storie nie. Slegs ons Almagtige Vader weet van dinge wat in die duisternis verborge is, en ken die bedoelings van die hart.
Net soos wat Sameul beïndruk was met Eliab se uiterlike voorkoms en oortuig was daarvan dat Israel se nuwe koning voor hom staan, net so word ons ook maklik deur uiterlike dinge soos titels en prestasies mislei. Maar die Here kon baie beter as Sameul sien.
‘Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”’ 1 Sameul 16:7
Om hierdie rede het Jesus aan ons die opdrag gegee om lief te hê en te dien. Dit is nie ons plig om te besluit wie daardie liefde verdien nie. Ons moet net gehoorsaam wees en dit doen.
Mag jy hierdie week deur die bril van God se liefde en genade na almal om jou kyk, en mag ander ook so na jou kyk.
Geskryf deur Madeleine Venter