Miskien het jy al die storie van die mossie gehoor, en moet jy net weer daaraan herinner word. Of dalk hoor jy dit vandag vir die eerste keer. Nietemin, dit is ’n wonderlike verhaal van God se getrouheid, en dit loop so:
Tydens die tweede Anglo Boere-oorlog was Annette Marais een van die vroue wat in die Bethulie konsentrasiekamp gevange gehou is. Hierdie kamp was ook bekend as Helkamp. Annette het die Here gevra om aan haar ’n Skrifgedeelte te gee waarmee sy die vroue kon bemoedig.
Terwyl ’n groepie mismoedige vroue voor haar gesit het, het sy haar Bybel oopgeslaan en uit Matteus 10:29-31 gelees:
‘Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.’
Terwyl sy lees, het ’n mossie skielik aangevlieg gekom en op haar skouer gaan sit. Die vroue kon nie glo wat hulle sien nie. Dit was asof God die mossie gestuur, en op Annette se skouer laat sit het, om hierdie boodskap aan hulle te bevestig.
Van daardie dag af was mossies ’n baken van hoop vir die vroue in Helkamp gewees. Na die oorlog, is die storie aan Jan Smuts oorgedra, en het hy twee mossies op die kwartpennie laat inbed. Later is dit oorgedra na die eensentmuntstuk.
Soos wat ek hier sit en skryf, hou ek ’n hele paar mossies dop. Hulle hop op die grasperk rond en versamel takkies, blare en veertjies. Dan vlieg hulle met bekkiesvol terug na waar elkeen besig is om een van vele nessies in die doringbome rondom ons huis te bou. Dit is vir my wonderlik om te weet dat God in beheer is van elkeen van daardie mossies se lewens. Hy weet hoe ver elkeen met sy nessie trek en voorsien wat nodig is om die werk te voltooi.
Jesus sê dat ons meer werd is as baie mossies. Hy is so bekend met ons, dat Hy selfs weet hoeveel hare op elkeen van ons se koppe is! En saam met dit kom Sy opdrag: “Moet dan nie bang wees nie.”
Hy weet van alles wat in jou lewe aan die gang is. As Hy so mooi vir die mossies sorg, sal Hy vir jou ook sorg.
Moenie bang wees nie. Hy ken jou.
‘Maar as iemand God liefhet, ken God hom.’ 1 Korintiërs 8:3
Geskryf deur Madeleine Venter