Na aanleiding van Psalm 98 (lees 2020-vertaling)
Here, daar is tye in die lewe wanneer mens as’t ware gelyktydig in drie dimensies of tydperke funksioneer. Jy is dan meer intens bewus dat jy in die oomblik leef, maar dat dit nie al is nie. Jy herken die hede as vrug van wat in die verlede gebeur het, én as platform vir wat kom.
In sulke oorgangtye met ’n multidimensionele karakter, Here, is dit selfs asof jy méér kan sien en fyner bewus is van hoe God Godself in die groter skema van die skepping aan ons bekend stel. Dit is in dié dimensioneel ryk tye dat herinnering en herkenning ons geloof rig.
Die psalmis roep sy geloofsgenote op om ’n nuwe lied te sing oor Jahwe, Israel se Verbondsgod. U het u verlossing vir Israel uit ballingskap bekend gemaak. En Here, omdat U u werke van geregtigheid openbaar en u verlossing bekendmaak, ontbrand ’n lied in die hart oor u getrouheid.
Die psalmis se oproep aan sy geloofsgenote destyds, om te juig voor die Koning, die Here, spreek juis tot ons in dié tyd van die Liturgiese Jaar. Here, ons nader die einde van die Christelike Kerkjaar met oë gerig op Sondag van Christus die Koning. Ryk is ons herinneringe aan u troue liefde!
Here, wanneer die Liturgiese Jaar geloofsgemeenskappe aanspoor om voor Christus die Koning te juig, wek die nuwe lied op ons lippe herkenning van u regterhand, u heilige arm, in die wonders wat U oor die tye gedoen het. Om Christus as Koning op die troon te sien, open die toekoms.
Here, dankie vir die heilsgeskiedenis wat U alleen deurgevoer het. Dankie vir die verlossing wat U aan elke geslag bekend maak; vir die geregtigheid wat U voor die nasies geopenbaar het; vir u troue liefde aan u verbondsvolk en dat die nasies u verlossing gesien het.
U herinneringe aan wat U gedoen het en dat U ons laat sien wat U steeds doen, wek in ons die herkenning van die Koning wat U gestuur het, die Here. Nou kan ons saam met die ganse skepping voor Christus die Koning juig, in die toekoms in, met ’n nuwe lied vir U, ons Verlosser.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR C – DRIE EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD