Terwyl Josef daarmee geworstel het om sy verlowing aan Maria stilweg te verbreek omdat sy swanger was, het daar ’n engel verskyn wat hom daarvan verseker het dat haar swangerskap van die Heilige Gees af kom. En dan haal hy die profeet Jesaja se woorde uit Jesaja 7:14 aan. ’n Profesie wat meer as 500 jaar tevore reeds gemaak is:

‘“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.’ Matteus 1:23

Laat jouself net vir ’n oomblik toe om die grootheid hiervan te oordink: ’n Engel gebruik die Woord om te bevestig dat die Woord mens geword het.

Dit was nie bloot menslike interpretasie van ’n eeue oue profesie nie, nee, ’n engel uit die hemel het die verband tussen Jesus se geboorte en Jesaja se woorde getrek. Is dit nie wonderlik nie?

Dit het Josef oortuig om steeds met Maria te trou, en dit behoort jou daarvan te oortuig dat Jesus werklik die Seun van God is.

Die Woord het Immanuel geword.

‘In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie… Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.’ JOHANNES 1:1-5,14

Dít is die wonder van Kersfees. Die rede waarom ons ’n Christusfees behoort te vier. Kersvader en elwe en towertakbokke moet eenkant toe staan en plek maak vir Immanuel.

Want Hy is God by ons, en dit oortref alles in wonder.

Maak seker almal aan jou tafel weet waarom daar fees gevier word. Laat jonk en oud opnuut in verwondering staan oor die Woord wat mens geword het.

Mag jy en jou geliefdes ’n Geseënde Christusfees hê.

Geskryf deur Madeleine Venter