Na aanleiding van Psalm 68:1-10, 32-35 (lees 2020-vertaling)

Here, in die week na Hemelvaart op weg na Pinksterfees, peins ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges oor Jesus wie op die wolke ry. Na u hemelvaat regeer U aan die Vader se regterhand oor sy vyande en haters, asook oor goddeloses én oor regverdiges. U krag lê in die wolke.

Dawid se Ou-Testamentiese geloofslied herinner ons aan die Heidelbergse Kategismus, Here. Die ou leerboek van die Protestantse geloof vra na die nut (waarde, betekenis) van u Seun se hemelvaart. Ons Psalm antwoord dié veel jonger vraag op ’n besondere wyse.

Die Psalmis herinner ons U, ons God, ry deur die oeroue hoogste hemel, en gee aandag aan vadeloses, weduwees en eensames. Jesus se hemelvaart verkondig dat Hy saam met U as regter optree vir weerlose weduwees, dat Hy vir eensames ’n tuiste bied en gevangenis voorspoedig maak.

Ons dank U, Here ons God, vir geloofsverhale wat die Psalmis oor U deel, en vir die geloofstradisie wat ons verseker Jesus is by U in u heilige woonplek. Die beeldryke taal van antieke tye oor hoe U heerskappy voer oor die koninkryke van die aarde, laat ons hoopvol leef ná Jesus se hemelvaart.

Here, nou bedink ons die dinge waar U en u Seun is. Ons erken U het krag oor hardkoppiges en goddeloses, dat U hoog verhewe is oor Israel, Egipte en die Kussiete. U krag lê buite ons begrip en waarneming, in die wolke soos ouer gelowiges getuig het. U magtige stem weerklink oor alles.

Dankie Here Jesus dat U in die hemel ons Voorspraak is by die Vade, dat U ons Hoof, vir ons ’n betroubare waarborg in die hemel is om ons na die Vader toe te neem. U het u Gees as waarborg na ons toe gestuur deur wie se krag ons soek na wat daar bo is. Here is sy Naam – jubel voor Hom.

Here, hier staan ek voor U saam met die regverdiges.
Ons is bly. Ons jubel voor God.
Ons juig van vreugde.
Ons besing u Naam.
Ons verheerlik U.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – SEWENDE WEEK VAN PASE