Elihu was die enigste van Job se vriende wat nie deur God berispe is oor die verkeerde raad wat hy gegee het nie. Dit is omdat hy nie op sy eie insig staat gemaak het nie. Hoor wat sê hy in Job 32:6-9:
‘Elihu het gesê: “Ek is jonk in vergelyking met julle; daarom was ek versigtig om sommer vir julle te vertel wat ek dink. Ek het gedink dat ouer mense eerste moet praat, want hulle het meer kennis en ervaring van die lewe. Maar die waarheid is dat dit God se Gees is wat ’n mens verstandig maak. Ouer mense is nie noodwendig verstandig nie. En net omdat mense oud is, beteken dit ook nie noodwendig dat hulle weet wat reg is nie.’ Job 32:6-9 DB (eie klem)
Hy het sy argument met Job gebou op die insig wat hy van God se Gees ontvang het.
God het die mens na sy beeld geskape, en toe sy lewensasem in hom geblaas sodat die mens ’n lewende wese geword het. (Gen. 1:27; Gen. 2:7) Daarom sê Elihu ook ’n rukkie later:
‘Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige het my die lewe gegee.’ Job 33:4
Omdat jy na die beeld van God geskape, en sy asem in jou is, kan jy heers oor die skepping (Gen. 1:26). Jy het die vermoë om te skep – en nie net dinge soos kunswerke, musiek, gedigte of stories nie, maar jy kan ook kreatiewe oplossings vir probleme skep (Eks. 31:1-6). Jy het bonatuurlike insig en wysheid (Gen. 39:2-5; Dan. 1:17).
Dit beteken jy hoef nie ’n verslaafde te wees nie, want jy kan oor jou liggaam en dit waaraan jy verslaaf is heers.
Dit beteken jy hoef nie vasgevang in slegte situasies te wees nie, want jy kan met kreatiewe oplossings vorendag kom, en die lewe beter en mooier maak.
Dit beteken ook dat jy nie verkeerde keuses hoef te maak, of net gelate saam met die massas hoef te beweeg nie, want jy kan met insig en in wysheid optree.
Met die asem wat Hy jou gegee het, kan jy jou lewe laat tel. Jy kan tot seën wees vir almal wat jou pad kruis en sy Naam eer in alles wat jy doen.
Moet nooit minder as dít van jouself dink nie.
Geskryf deur Madeleine Venter