Gebed na aanleiding van Psalm 119:97-104 (lees 2020-vertaling)
Here, vandag is my toewydingsgebed aan U op grond van my liefde vir u wet. U wet hou veel méér in as net ’n stel rigiede reëls. Die aantal “tōrâ”-sinonieme bevestig juis u lewegewende teenwoordigheid in my omgang met ander én met u skepping. Dit is die Bybel se blye boodskap.
Die digter se gedagtes in sy Psalm se Mem-versreëls, onderrig ons in die ABC van wetsvroomheid, Here, Dit moet nie verwar word met wettisisme of fariseïsme nie. “Tōrâ”- sinonieme soos wet, gebod, bepalings, woord, opdragte, beslissings omsluit die hele boodskap van die Bybel.
Die psalmis se “tōrâ”-sinonieme bevat sy omvattende oortuiging oor die toereikendheid van ’n lewe wat volgens die “wet” ingeruim is. Dit verskaf wysheid wanneer vyande my lewe bedreig en bied aan my stille versekering omdat dit altyd tot my beskikking is. U is self die inhoud daarvan, Here.
Met sy rykdom aan seggingskrag oortuig die psalmis se onderrig oor die “wet” my dat lewe in gehoorsaamheid daaraan, nie net toereikend is nie maar ons lewe/my lewe op ’n vaste baan plaas wat na U toe lei, Here. Om u “wet” te gehoorsaam is om U as Verlosser van die mensheid te ken.
Here, hoe bevrydend is dit om te weet U gee vir ons die gawe van intieme gemeenskap met U, waarvan U die diepe emosionele waarde van dié verbintenis in die ‘’tōrâ”-sinonieme aan ons kommunikeer. U lewenswoorde maak ons
verstandig en verskaf die grondstof om oor U na te dink.
Wanneer ek/ons die “tōrâ”sinonieme as u lewegewende riglyne omhels en bereid is om ons lewe in gemeenskap met U daarvolgens in te rig, Here, is dit nie maar net navolg van instruksies nie, maar uitdrukking van toewyding aan U; erkenning dat U die Sin van ons lewe is.
Dankie dat ek saam met die psalmis kan getuig oor insig in u wil vir en bedoeling met my lewe, Here. Dankie dat hierdie insig in die lewe en toekoms wat U vir u mense begeer, my aanspoor om U opdragte uit te voer. Dit is nie vir my
bande wat knel nie, maar geloofskennis wat my bevry.
Hoe strelend is u woorde vir my verhemelte, Here. Dit het meer waarde as heuning in my mond. U self onderrig my!
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR C – NEGENTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD